Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Kan nie af van Everest: 10 van Suid-Afrika sit vas
2 500 sterf in skudding
Vyf Suid-Afrikaners in die Everest-basiskamp. Van links is Donna McTaggart, Sean Wisedale, Saray Khumalo, Marlette Hegyi en Wilmien van der Merwe.

Minstens tien Suid-Afrikaners is op Everest vasgekeer weens sneeustortings ná die naweek se reuse-aardbewing naby Katmandoe in Nepal en die naskokke wat daarop gevolg word.

Die aardbewing, wat 7,8 op die Richterskaal geregistreer het, het die lewe van meer as 2 500 mense geëis, hoofsaaklik in Nepal, maar ook tientalle in Indië en Tibet. Derduisende is beseer en talle is onder puin vasgekeer.

Minstens 17 klimmers is by Everest se basiskamp in sneeustortings dood.

Die groep Ubuntu Everest het gesê die 10 klimmers van Suid-Afrika is tussen die basiskamp en kamp 1 en 2 versprei.

Saray Khumalo (43), ’n Johannesburger wat probeer om die eerste swart vrou te word wat die piek uitklim, was Sondag by kamp twee, 6400 m bo seevlak, vasgekeer.

Sy was nog besig met voorbereiding voordat hulle op 20 Mei met die tog sou begin.

Sy het Sondag in ’n SMS aan Ubuntu Everest, haar ondersteuningspan, gesê sy is veilig.

“Als gaan goed hier, maar die weer is baie sleg. Ek het die groot aardbewing en verskeie sneeustortings beleef. Ek was ook saam met ’n sjerpa op ’n bewegende gletser tussen kamp 1 en 2 vasgekeer. Toe ons na kamp 2 probeer terugkeer het, het dit so gesneeu dat ons aanvanklik verdwaal het.”

Die ander Suid-Afrikaners in die groep is Lysle Turner; Ronnie Muhl; Donna McTaggart; Elizabeth Bool; die avonturier Sean Wisedale; Marlette Hegyi; Wilmien van der Merwe; Nico Oosthuizen; en Katlego Letheo.

Hulle is na verneem word veilig, maar dit is nog onseker hoe hulle van die berg af gaan kom.

“Daar kan nog Suid-Afrikaners wees van wie ons nie weet nie,” het Sarieta Schültz, woordvoerder van Ubuntu Everest, gesê.

Dit is Khumalo se tweede poging om die hoogste bergpiek ter wêreld te klim. In 2014 moes sy haar tog weens gevaarlike sneeustortings, wat die lewe van 16 sjerpas geëis het, kortknip.

Volgens Schültz is van die klimmers wat by kamp 1 vasgekeer was, reeds per helikopter verwyder.

“Hulle wag nou dat die sjerpas die toue en lere herstel sodat hulle van die berg af kan kom. In hierdie stadium het Khumalo genoeg voorraad, maar ons weet nie hoe lank sy daar gaan wees nie.”

Daar was byna 1 000 bergklimmers en sjerpas op Everest toe die eerste sneeustorting, ’n groot monster-wolk van sneeu en klippe, teen die berghang afgekom het. Die naskokke het nóg sneeustortings in die Himalaja-gebergte veroorsaak.

Lees ook:

■ ​10 van Suid-Afrika sit vas

 ■ ​Kyk: Nepal steier; dodetal al meer as 2 000

■ ​2 van SA is veilig, hoor man se ma

■ ​Gift of the Givers reg om in Nepal te gaan help

■ ​SA krieketspelers voel naskokke in Indië

■ ​SA klimmer help soek na lyke

“Hier kom nog een. Ons het nou ’n naskok. O s**t,” het ’n Indiese bergklimmer, Arjun Vajpai, van die basiskamp oor die foon geskree, berig Reuters. Hy het toe net geskree “avalanche!” en gille en die geraas van ’n sneeustorting kon gehoor word.

Bhim Bahadur Khatri, ’n kok en sjerpa, was besig om kos in ’n tent te berei toe die sneeustorting gebeur het, berig The Guardian.

“Ons het uitgehardloop en die volgende oomblik het ’n reuse-muur van sneeu my toegeval.

“Ek het my pad oopgegrawe, maar dit kon maklik my graf gewees het. Ek was besig om te versmoor en ek kon nie asem kry nie. Maar ek het geweet ek moet oorleef.”

Toe hy uitkom, was ’n deel van die basiskamp weg. “Ek het baie van my vriende verloor.”

’n Groep hoërskoolmeisies van die St. Mary’s Diocesan School for Girls in Pretoria was ook in Katmandoe ten tyde van die aardbewing.

’n Stapper van Johannesburg, Errol Goodman, en ses medelede van die Johannesburg Hiking Club het ongedeerd uit die aardbewing gekom.

Goodman se vrou, Candice, het Sondag aan Beeld gesê sy verwag dat haar man Sondagmiddag laat na Suid-Afrika sou terugvlieg.

Errol het die toneel aan haar beskryf. “Hy het gesê geboue, oud en nuut, het binne sekondes meters van hom af grond toe getuimel. Die skok van die aardbewing het hom van sy voete gegooi,” het Goodman gesê.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het gesê hy gaan nie “die syferspeletjie speel” oor hoeveel Suid-Afrikaners in Nepal is nie, maar dat hulle met elkeen kontak gemaak het. Geen Suid-Afrikaanse sterftes is nog aangemeld nie.

Die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat in Sri Lanka is in kontak met die owerhede in Nepal en is gereed om Suid-Afrikaanse burgers by te staan.

UPDATE: Saray from Camp 2: "All good but weather bad. What a day I had yesterday. Earthquake and multiple...

Posted by Ubuntu Everest 2015 on Sunday, 26 April 2015
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.