Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Verslaan terrorisme ‘deur stryd van idees’
Prof. Hussein Solomon

Met net militêre ingryping gaan ons nie die stryd teen terreur in Afrika wen nie, het prof. Hussein Solomon, terreurkenner van Bloemfontein, in ’n lesing op die Toyonaka-kampus van die Osaka-universiteit in Japan gesê.

Solomon, dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), se lesing vandeesweek was gegrond op sy nuwe boek, Terrorism and Counter-Terrorism in Africa; Fighting Insurgency from Al Shabab, Ansar Dine and Boko Haram.

Solomon sê 22 Afrika-lande word deur terrorisme geraak.

“Drie terrorisaanvalle vind elke dag plaas ondanks groot beleggings in Afrika se militêre magte, hul opleiding en toerusting. Na my mening moet groter klem op ontwikkeling en regering saam met die militêre opsie gelê word . . .

“Terrorisme moet verslaan word deur die stryd van idees, demokratiese regering en ekonomiese ontwikkeling vir diegene in die samelewing wat verstoot word.”

Hy meen dié verstotelinge word deur terreurgroepe soos Boko Haram, die Islamitiese Staat (IS) en Al-Sjabaab gewerf.

Net so word korrupsie, armoede, swak onderwys en politieke onderdrukking ook deur terroriste uitgebuit om lede te lok of in die burgers se goeie guns te kom.

Solomon sê korrupte Nigeriese politici het sedert die einde van die militêre bewind in 1999 tussen $4 miljard en $8 miljard (tussen R48,65 miljard en R97,30 miljard) verduister.

Dit versterk Boko Haram se uitsprake onder die land se armes dat die Nigeriese staat boos is.

Volgens Hussein ervaar van die armste lande in die wêreld – soos Mali, Afganistan en Somalië – terrorisme.

Hy sê die weermag kan gebruik word, maar nie as die hoof-instrument nie.

Dít moet eerder deel van ’n holistiese benadering wees waardeur maatskaplik-ekonomiese toestande aangepak en die klem op ontwikkeling, asook inklusiewe en verbeterde regerings, geplaas word om terrorisme te voorkom.

 Hussein se boek word uitgereik deur Palgrave Macmillan en sal volgens dié uitgewer se webtuiste in Mei vanjaar op winkelrakke beskikbaar wees.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.