Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
ONDERWATER-SOEKTOG AFGELAS
Vrae oor veiligheid ná duiker vermis raak
Natalia Molchanova

MADRID. – Die Russiese kampioen-vryduiker Natalia Molchanova het private lesse aan minstens twee onervare duikers gegee toe sy verlede Sondag nie weer opgekom het na die oppervlakte nie, het haar seun Vrydag gesê.

Daar is Vrydag aangeneem dat Molchanova (53) dood is nadat sy reeds vir vier dae in die Ba­leariese See naby die Spaanse kus vermis was. Soektogte onderwater is Donderdag opgeskort, maar die Spaanse kuswag het gesê hy sal tot Sondag soektogte op die seeoppervlak uitvoer.

Molchanova se seun, Alexey, het Vrydag ’n tweede keer nuwe besonderhede oor die duiklesse bekend gemaak nadat Spaanse mediaberigte teenstrydige inligting gepubliseer het oor besonderhede wat hy vroeër bekend gemaak het.

Molchanova het private lesse gegee aan Pavel Tyo, mede-eienaar van Capital Group, ’n eiendomsontwikkelaar in Moskou, asook minstens een ander persoon.

Volgens Spaanse media besit Tyo ’n huis op die eiland Ibiza en het hy en ’n onbekende aantal bemanningslede met sy groot seiljag Pumpkin na die nabygeleë eiland Formentera geseil.

Alexey Molchanova het gesê die seiljag het in die hawe La Savina by Poniente de es Freus aangekom en ’n groep het Tyo se opblaas- en motorbote gebruik om 4,5 km van die kus te kom tot waar die water helder was en ongeveer 200 m diep is.

Vir haar lesse het Molchanova ’n lyn van ongeveer 20 m vertikaal gespan, die maksimum diepte vir ’n beginner se vryduike. Beginners duik aanvanklik 10 m, dan 15 m en daarna 20 m.

Volgens Alexey was Molchanova as instrukteur en veiligheidsduiker die heeltyd langs beginnerduikers. Tussen die beginnerduike het Molchanova minstens een, en moontlik verskeie, duike op haar eie gedoen.

Indien Molchanova wel die enigste ervare duiker in die water was en self sonder ’n vaardige veiligheidsduiker geduik het, sou dit strydig wees met gebruike van duikers en instrukteurs van dié sport, veral in ’n wêrelddeel bekend vir sy onvoorspelbare seestrome en swaar seeverkeer.

Volgens mediaberigte het die bemanning van Pumpkin ná Molchanova se verdwyning die maritieme noodreddingsdiens ontbied en self bykomende bote ontplooi om na haar te help soek.

Die kuswag se boot wat in onderwater-aktiwiteite spesialiseer en ’n helikopter het ook aan die soektog deelgeneem.

Daarbenewens het Tyo en Alexey Molchanova ’n afstandbeheerde duikboot met kameras gehuur en in ’n gebied met ’n ra­dius van ongeveer 230 m van waar sy verdwyn het, gesoek.

Molchanova sou later die maand aan gevorderde duike naby die Kroatiese kus deelneem. Sy is die houer van verskeie wêreldrekords en word as die beste vryduiker ooit beskou.

– SAAMGESTEL UIT New York Times en Reuters.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.