Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Aangerande’ vra dat Biden hom onttrek

Die vrou wat beweer Joe Biden het haar in 1993 seksueel aangerand, het Donderdag in ’n televisie-onderhoud gesê hy moet hom onttrek aan die veldtog om tot president van Amerika verkies te word.

Tara Reade het dié opmerking gemaak in ’n onderhoud met die voormalige NBC- en Fox News-joernalis Megyn Kelly, ses dae nadat Biden gesê het die beweerde voorval “het nooit plaasgevind nie”. Dit was die eerste keer dat hy in die openbaar op die bewering gereageer het.

Reade, wat van Desember 1992 tot Augustus 1993 as assistent in Biden se kantoor in die senaat gewerk het, beskuldig Biden daarvan dat hy haar in 1993 teen ’n muur vasgedruk, haar rok opgelig en sy vingers in haar gedruk het.

Reade was een van agt vroue wat verlede jaar na vore gekom het om te sê Biden het hulle omhels, gesoen of aangeraak op maniere wat hulle ongemaklik laat voel het, hoewel niemand hom van seksuele aanranding beskuldig het nie. Reade het hom in Maart in die openbaar in ’n podsending van die aanranding beskuldig.

Joe Biden, Demokratiese Amerikaanse presidentskandidaat en voormalige visepresident, praat tydens die 11de debat van die 2020 Amerikaanse presidensiële veldtog wat in CNN se ateljees in Washington sonder ’n gehoor gehou is.Foto: REUTERS

Biden (77), wat die Demokratiese Party se kandidaat in die verkiesing teen pres. Donald Trump (73) sal wees, het verlede week in ’n MSNBC-onderhoud gesê: “Ek sê onomwonde dat dit nooit, ooit gebeur het nie.”

“Ek en jy was daar, Joe Biden. Tree asseblief na vore en aanvaar verantwoordelikheid,” het Reade gesê.

Op Kelly se vraag of Biden hom aan die wedloop moet onttrek, het Reade gesê: “Ek wens hy sou, maar hy sal nie.”

Kate Bedingfield, adjunkbestuurder van Biden se verkiesingsveldtog, het in reaksie hierop gesê “al hoe meer teenstrydighede kom na vore in Reade se weergawe van gebeure”.

“Vroue moet die voordeel van die twyfel kry,” sê Bedingfield in ’n e-posverklaring. “Terselfdertyd kan ons nooit die waarheid opoffer nie. En die waarheid is dat hierdie bewerings vals is en dat die materiaal wat aangebied is om dit te bewys, by nadere ondersoek voortdurend blyk vals te wees.”

Sy het nie gereageer op Reade se opmerking dat Biden hom aan die veldtog behoort te onttrek nie.

Verskeie nuuspublikasies wat Reade se weergawe gepubliseer het – waaronder The New York Times en The Washington Post – het met ’n vriendin van Reade gepraat wat sê Reade het haar destyds van die beweerde aanranding vertel. ’n Ander vriendin het aan die The Times gesê Reade het haar in 2008 vertel van ’n traumatiese voorval in haar lewe waarby Biden betrokke was. Reade se broer het ook dele van haar weergawe aan The Intercept en The Post bevestig.

Reade (56) het in onderhoude gesê sy het destyds by drie van Biden se assistente in die senaat gekla oor seksuele teistering, nie seksuele aanranding nie. Die Biden-veldtog het ’n verklaring uitgereik van een van dié assistente, Marianne Baker, waarin sy sê in die 20 jaar dat sy vir Biden gewerk het, het sy geen klagte oor onvanpaste gedrag teen hom ontvang nie.

The Post en The Times het onderhoude gevoer met die ander twee assistente, wat albei gesê het hulle onthou nie dat Reade so ’n klagte ingedien het nie.

Biden het die sekretaris van die senaat verlede week gevra om enige rekords oor ’n klag of ander dokumente wat met Reade se bewering verband hou, openbaar te maak, indien daar so iets is. Die senaat het die versoek geweier op grond van vertroulikheidsvereistes.

Sommige vooraanstaande Demokratiese vroue, waaronder Nancy Pelosi, speaker van die huis van verteenwoordigers, en senator Elizabeth Warren, wat ook in die wedloop was om die Demokrate se presidentskandidaat te word, het tot Biden se verdediging gekom. – Reuters

Meer oor:  Joe Biden  |  Onttrek  |  Onderhoud  |  President  |  Veldtog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.