Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Aanleg in N-Korea dalk vir missiele bedoel

’n Nuwe aanleg wat naby die internasionale lughawe in Pjongjang verrys het, word feitlik vir seker aan Noord-Korea se uitbreiding van sy program vir ballistiese missiele gekoppel, sê ’n dinkskrum van Washington.

Die sentrum vir strategiese en internasionale studies (CSIS) het na satellietbeelde verwys wat die aanleg en ’n nabygeleë ondergrondse struktuur toon met die vermoë om Noord-Korea se grootste internasionale ballistiese missiele te huisves.

Kenners glo die missiele kan enige plek in Amerika tref.

Bouwerk het in 2016 begin en die aanleg het heelparty eienskappe wat daarop kan dui dat dit verband hou met Noord-Korea se missielprogram, luidens die CSIS-verslag, wat Dinsdag gepubliseer is. Daar is buitengewoon groot bedekte spoorterminale en geboue met deurry-toegang.

Boonop is dit relatief na aan die aanlegte waar komponente vir ballistiese missiele vervaardig word.

Die Noord-Koreaanse ambassade in Beijing kon nie dadelik vir kommentaar op die verslag bereik word nie.

’n Woordvoerder van Suid-Korea se ministerie vir eenwording het gister op sy gereelde inligtingsessie in Seoel gesê dit sal “nie gepas wees” om kommentaar te lewer nie toe hy daarom gevra is.

Kim Jong-oen
Kim Jong-oen by ’n bemestingfabriek wat hy op Vrydag 1 Mei in Soensjon naby Pjongjang in Noord-Korea geopen het. Foto: AP

Onderhandelings wat gemik is op die aftakeling van Noord-Korea se kern- en missielprogramme het tot stilstand gekom nadat gesprekke met die VSA verlede jaar misluk het.

Noord-Korea het in 2018 gesê hy het ’n kerntoetsplek gesluit en het ook verlede jaar aangebied om ’n kernkompleks te sluit in ruil vir die herroeping van vyf sleutelresolusies van die Verenigde Nasies (VN) op ’n mislukte beraad in Viëtnam tussen die leier, Kim Jong-oen, en pres. Donald Trump van die VSA.

Maar kenners en Amerikaanse amptenare sê omdat daar nie ’n ooreenkoms oor kernontwapening gesluit is nie, gaan Noord-Korea voort om sy arsenaal kernwapens en ballistiese missiele uit te brei. In die laaste maande het Noord-Korea ook gewaarsku dat hy sy selfopgelegde moratorium op kernwapentoetse en die lansering van ballistiese missiele kan herbedink.

Volgens die verslag is die aanleg by Pjongjang groot genoeg om ’n Hwasong-15- interkontinentale ballistiese missiel te huisves, en daarom ook al die land se bekende reeks missiele.

  • Noord-Korea het op 4 April verskeie kortafstand-anti-skeeps-missiele in die see gelanseer en Sukhoi-stralers het lug-tot-grondmissiele afgevuur. Net ’n dag nadat Kim die naweek vir die eerste keer in weke in die openbaar verskyn het, was daar ’n skietery in die gedemilitariseerde gebied tussen Noord- en Suid-Korea. – Reuters
Meer oor:  Donald Trump  |  Kim Jong-Oen  |  Noord-Korea  |  Missiele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.