Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Aanslag op VSA-posdiens’

Die politieke krisis oor die Amerikaanse posdiens het die naweek verdiep en Nancy Pelosi, die speaker van die huis van verteenwoordigers, oorweeg dit om kongreslede vroeër van hul lentereses terug te roep.

Die huis word beheer deur die Demokrate, wat pres. Donald Trump daarvan beskuldig dat sy lakeie die posdiens doodwurg in ’n poging om hom ’n voorsprong in die komende presidentsverkiesing te gee.

Die posdiens, die USPS, gaan ’n groot rol in die stemstryd speel omdat meer stembriewe weens die Covid-19-pandemie per pos ingestuur gaan word as gewoonlik. Trump is gekant teen posstemme en het dit al die “skandaal van ons tyd” op Twitter genoem.

Louis DeJoy, wat deur Trump as die posmeester-generaal aangewys is, het onlangs begin met skerp maatreëls om koste te bespaar wat tot al hoe groter vertragings met die aflewering van pos gelei het.

Hy het onder meer oortydbetalings beperk en baie openbare posbusse laat verwyder.

’n Demokratiese assistent in die kongres het die naweek aan die tydskrif Politico bevestig Pelosi kan die kongreslede lank voor die hervatting van sittings in middel September terugroep.

Sy het dit Saterdag in ’n konferensie-oproep met senior partylede bespreek.

Pelosi en Chuck Schumer, die leier van die Demokrate (die minderheid) in die senaat, het Vrydag gesê Trump en sy lakeie “het ’n volslae aanslag op die posdiens geloods en op sy vermoë om die integriteit van die verkiesing te verseker”.

’n Wetsontwerp is ook deur die Demokrate by die huis van verteenwoordigers ingedien wat enige veranderings aan die USPS tot ná die pandemie sal uitstel.

Indien die kongreslede vroeg terugkeer, sal hulle waarskynlik ten gunste daarvan stem.

Jim Cooper, ’n Demokraat en leier van ’n gematigde koalisie in die huis, het op Twitter gesê hy is een van talle kongreslede wat ’n beroep op Pelosi gedoen het om die reses vroeër te beëindig.

Volgens hom moet DeJoy met ’n lasbrief gedwing word om voor die kongreslede te verskyn en indien hy weier, “moet hy in hegtenis geneem word”.

Trump het Saterdag op ’n mediakonferensie gesê DeJoy is ’n “baie talentvolle man” wat die USPS vaartbelynder probeer maak.

Hy het egter gou bygevoeg hy is onseker oor watter stappe DeJoy besig is om te doen.

Nancy Pelosi Foto: AP

Die inspekteur-generaal van die posdiens het intussen Vrydag gesê hy gaan DeJoy se besnoeiingsmaatreëls ondersoek, asook ’n moontlike botsing van belange.

DeJoy besit na bewering aandele ter waarde van miljoene dollars in die USPS se teenstanders.

Die ondersoek is blykbaar aangevra deur sen. Elizabeth Warren.

Haar woordvoerder het gesê DeJoy het ook al $2,7 miljoen aan Trump en ander lede van die Republikeinse Party geskenk.

Intussen het die nasionale vakbond van posbodes gesê hy verteenwoordig 300 000 werknemers van die posdiens en hulle het hul steun aan Joe Biden en Kamala Harris in die verkiesing toegesê.

Volgens hulle is die “oorlewing van die posdiens” in die weegskaal. – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.