Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Natanz: Aanval ‘versterk Iran in gesprekke’

Die aanval op Iran se Natanz-kernaanleg “was ’n baie swak waagstuk” wat die land se hand in die hernude onderhandelings oor sy kernkragvermoëns sal sterk, het die minister van buitelandse sake, Mohammad Jawad Zarif, Dinsdag gesê.

Iran blameer Israel vir die aanval Sondag, wat Maandag in berigte as onderskeidelik ’n kuberaanval en ’n ontploffing beskryf is.

Al wat in dié stadium seker blyk te wees, is dat die kragtoevoer van die aanleg heeltemal buite aksie gestel is. Iran se regering in Teheran het gesê die aanval op sy belangrikste kernkragaanleg was sabotasie deur sy aartsvyand, Israel. Hy het wraak gesweer, in wat soos die jongste episode in die langdurige geheime oorlog tussen die twee lande (sien kassie onder) lyk.

Mohammad Jawad Zarif (regs), Iran se minister van buitelandse sake, Dinsdag op ’n mediakonferensie in Teheran saam met sy Russiese eweknie, Sergei Lawrof. Foto: Reuters

Israel, wat nie deur Iran erken word nie, het nie amptelik op die aanval gereageer nie, maar die media in Israel het bronne in Mossad, die land se intelligensiediens, aangehaal wat beweer dat Israel betrokke was.

“Israel het ’n baie swak hand gespeel as hy gedink het dat die aanval Iran se saak in die kernkragonderhandelings sal verswak,” het Zarif Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê wat hy saam met Sergei Lawrof, sy Russiese eweknie, gehou het.

“Inteendeel, dit sal ons posisie versterk.”

Iran en ander wêreldmagte het verlede week “konstruktiewe samesprekings” gevoer oor die moontlike herstel van die land se kernkragvermoëns, wat in die 2015-ooreenkoms beperk is. Israel is hewig daarteen gekant.

Die ooreenkoms het skipbreuk gely toe oudpres. Donald Trump Amerika drie jaar gelede aan die ooreenkoms onttrek het. Hy het opnuut sanksies teen Iran ingestel, waarna dié land toenemend die perke wat aan hom gestel is, verontagsaam het.

Die samesprekings gaan Woensdag in Wene, Oostenryk, voort.

Die Amerikaanse regering het daarop gesinspeel dat hy dalk bereid sal wees om van die sanksies teen Iran op te hef – en selfs meer van die sanksies as wat in die 2015-ooreenkoms in die vooruitsig gestel is. Iran dring egter daarop aan dat alle sanksies onmiddellik opgehef word.

“Amerika moet weet dat nóg sanksies nóg sabotasie sy hand in onderhandelings sal sterk en dat hy net die situasie vir homself sal bemoeilik,” het Zarif gesê.

Lees ook: Is sabotasie in Iranse kernkragaanleg Israel se werk?

Die Withuis het Maandag gesê Amerika was nie betrokke by die aanval op Natanz nie en wou nie kommentaar lewer oor bespiegelings oor wat die oorsaak daarvan was nie.

“Sondag se sabotasie was in ’n kragkabelpypleiding na die sentrifugaalmasjiene. Dit was nie ’n eksterne aanval nie en die plek waar die sabotasie plaasgevind het, is presies vasgestel,” het Ali Rabiei, ’n woordvoerder van Iran se regering, aan die staatsbeheerde media gesê.

Dit blyk dat hy verwys na iemand wat volgens Iran se owerhede vir die kragonderbreking verantwoordelik was en na wie tans gesoek word. Volgens Rabiei is die skade egter gou herstel.

Iran se owerhede het gesê die uraanverryking in Natanz is nie weens die aanval gestaak nie.

“Wat in Natanz gebeur het, maak dit vir Iran moontlik om wetlik te doen wat ook al nodig is . . . om te vergoed vir hierdie terroriste-dwaasheid,” het Zarif gesê.

“Ek kan julle verseker dat Natanz binnekort nóg meer gevorderde sentrifuges in gebruik sal neem.”

Die sentrifuges wat in uraanverryking gebruik word, lê aan die kern van die ooreenkoms met Iran, ingevolge waarvan sy vermoë om uraan te mag verryk streng aan bande gelê word, het Netwerk24 Maandag berig.– Reuters

Die jongste in ’n reeks insidente?

Die ingewikkelde verhouding tussen Iran, Amerika en Israel kom al oor dekades heen:

• In Julie 2020 het ’n brand in Natanz die aanleg beskadig. Hoewel die land aanvanklik gesê het dat die skade gering is, het hy later erken dat ernstige skade wel aangerig is. Volgens Iran was dit ’n poging om sy uraanverrykingsvermoë te saboteer.

• Amerika en Israel word wyd geblameer vir die ontwikkeling van die Stuxnet-rekenaarvirus wat in 2010 gebruik is om Natanz aan te val. Dit het ook toerusting vir die verryking van uraan beskadig.

• Iran beskuldig Israel daarvan dat die land die afgelope jare verskeie sluipmoorde op van sy voorste kernkragwetenskaplikes uitgevoer het. Die jongste hiervan was Mohsen Fachrizadeh, wat November 2020 deur middel van ’n afstandbeheerde outomatiese wapen vermoor is. Die voertuig waarin die wapen was, het daarna ontplof.

• Honderde lugaanvalle op Iranse bondgenote in Sirië.

• ’n Geheimsinnige oliestorting in Noord-Israel wat amptenare as omgewingsabotasie bestempel.

• ’n Aanval verlede week op MV Sawiz, ’n Iranse vragskip, in die see naby Jemen. Daar word geglo dat dié skip vir geheime militêre bedrywighede gebruik word. Israel is daarvan verdink dat hy plofstof op die skip in die Rooisee geplant het. Later is berig dat Israel glo aan Amerika gesê het dat hy die skip aangeval het, maar dit is nie bevestig nie.


Meer oor:  Amerika  |  Iran  |  Israel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.