Meer as ’n miljoen mense in Afrika het die koronavirus opgedoen en dit versprei vinnig oor die vasteland.
Die vasteland het 1 003 056 gevalle aangemeld met die dodetal wat op 21 983 staan en 676 395 mense het al van die virus herstel.
Suid-Afrika, die land met die vyfde meeste infeksies in die wêreld en wat meer as die helfte van die gevalle in Afrika suid van die Sahara verteenwoordig, het sedert die eerste geval op 5 Maart al 538 184 gevalle gemeld, sê die departement van gesondheid.
Suid-Afrika se dodetal staan op 9 604, gevolg deur Egipte met 4 951 sterftes en Algerië met 1 273, volgens die Johns Hopkins-universiteit.
Kenners meen egter dat Afrika se bevestigde gevalle is waarskynlik hoër weens die lae vlakke van toetsing in baie lande.
Volgens die Afrika sentrum vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) is tien lande verantwoordelik vir 80% van die nuwe koronavirustoetse wat oor Afrika heen plaasvind. Dit is ’n aanduiding dat min toetsing in baie Afrika-lande plaasvind.
Sommige regerings is te arm of gaan gebuk onder konflik om wydverspreide toetse te doen, terwyl ander huiwerig is om data te deel wat hul gesondheidstelsels aan eksterne ondersoeke sal blootstel.
Suid-Afrika, Egipte, Nigerië, Ghana, Marokko, Kenia, Ethiopië, Rwanda, Uganda en Mauritius het elk meer as 200 000 toetse gedoen, sê John Nkengasong, hoof van die die CDC in Afrika.
Tot dusver is byna nege miljoen toetse op die hele vasteland gedoen, wat 9,4% hoër is as die vorige week.
“Hierdie getal dui aan dat ons 90% van ons doelwit bereik het om die Covid-19-toetse te versnel,” sê hy.
Die CDC sê dat dit 14 ander lande met ’n bykomende 240 000 toetse ondersteun het.
Mike Ryan, hoof van die WGO se noodgevalleprogram, het in Julie gewaarsku dat dit wat in Suid-Afrika gesien word, gaan waarskynlik op die hele vasteland gebeur.
Intussen het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gewaarsku teen “entstof nasionalisme” en ryker lande gemaan dat as hulle behandelings vir hulself hou, hulle nie kan verwag om veilig te bly as arm lande blootgestel bly nie, berig The Guardian.
Tedros Adhanom Ghebreyesus, hoof van die WGO, sê dit sal in die belang van ryker lande wees om elke land te help om homself teen die koronavirussiekte te beskerm.
“Entstof nasionalisme is nie goed nie, dit sal ons nie help nie,” het hy aan die Amerikaanse Aspen Security Forum gesê.
“Vir die wêreld om vinniger te herstel, moet dit saam herstel, want dit is ’n geglobaliseerde wêreld, die ekonomieë is verweef. ’n Deel van die wêreld of enkele lande kan nie ’n veilige hawe wees en herstel nie.
“Die skade van die Covid-19-pandemie kan minder wees as die lande wat die finansiering hiervoor het, hulle daartoe verbind.”
Verskeie lande is besig om ’n entstof vir die koronavirus te vind. Meer as 700 000 mense het reeds aan die virussiekte gesterf. - Reuters
https://www.theguardian.com/world/2020/aug/07/global-report-who-warns-against-dangers-of-vaccine-nationalism
https://www.reuters.com/article/us-health-coronavirus-africa-testing/10-countries-account-for-80-of-africa-covid-19-testing-africa-cdc-idUSKCN2521QZ?il=0
https://www.reuters.com/article/us-health-coronavirus-africa/africas-cases-of-covid-19-top-1-million-reuters-tally-idUSKCN25235N?il=0
https://coronavirus.jhu.edu/map.html