Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Al hoe meer mense ly honger

Meer as 821 miljoen mense oor die wêreld heen ly voortdurend honger. Daarbenewens is 150 miljoen kinders weens ondervoeding intellektueel en fisiek onderontwikkel.

Dit blyk uit inligting wat agentskappe van die Verenigde Nasies Dinsdag in ’n verslag, “The State of Global Food Security and Nutrition in the World”, bekend gemaak het.

Konflik en ekonomiese afswaai dra ook tot die toename in verhongering by.

Sedert 2014 het die aantal mense wat saans honger gaan slaap jaarliks toegeneem. In 2016 was daar sowat 804 miljoen honger mense ter wêreld.

Die opstellers van die verslag skryf die toename in wêreldwye honger toe aan onder meer klimaatsverandering wat tot reuse-misoeste lei.

Luidens die verslag is ’n gemiddeld van 213 voorvalle van uiterste hitte, langdurige droogtes en vloede jaarliks vanaf 1990 tot 2016 aangemeld.

Hierdie klimaatskommelings benadeel landbouproduktiwiteit en veroorsaak voedselskaarste. Dit het ’n kettingreaksie tot gevolg wat lei tot die styging in kospryse en die verlies aan inkomste vir mense wat onder meer in die landboubedryf werk.

Al hierdie faktore dra saam daartoe by dat mense nie toegang tot voedsel het nie.

’n Ontleding in die verslag dui daarop dat daar meer honger en ondervoede mense is in lande waar uiterste klimaatsomstandighede voorkom.

Temperatuurskommelings en afwykings van “normale” temperature het tussen 2011 en 2016 die grootste hoeveelheid misoeste opgelewer. Dit word veral toegeskryf aan besondere hoë temperature wat in dié vyf jaar aangeteken is.

Navorsers is veral bekommerd oor die aantal kinders wat aan vertraagde liggaamlike en verstandelike ontwikkeling ly.

Kos raak al skaarser in groot dele van Afrika, veral in die lande suid van die Sahara en Oos-Afrika. Kosskaarstes is ook aan die toeneem in Suid-Amerika.

Konflik en ekonomiese afswaai dra ook tot die toename in verhongering by.

Navorsers is veral bekommerd oor die aantal kinders wat aan vertraagde liggaamlike en verstandelike ontwikkeling ly. Die meeste van hulle is in Afrika en Asië.

Die verslag sê dit is ’n skande dat een uit elke drie jong vroue ter wêreld aan bloedarmoede ly. Dít het ernstige gevolge vir die vrou en haar kinders. Daar is meer as drie keer soveel vroue in Afrika en Asië as dié in Noord-Amerika wat aan hierdie toestand ly.

Vetsug onder volwassenes neem ook toe. Een uit agt mense wêreldwyd is vetsugtig. Die meeste vetsugtiges woon in Noord-Amerika. Daar is egter duidelike tekens dat hierdie toestand besig is om onder Afrikane en Asiërs toe te neem.

In baie lande loop vetsug en ondervoeding hand aan hand. Voedselonsekerheid dra daartoe by omdat mense hulle in hierdie omstandighede aan ongesonde kos vergryp.

Die opstellers van die verslag doen ’n beroep op beleidmakers om drastiese stappe te doen om te midde van klimaatsverandering veerkragtige landboupraktyke te skep.

Vinnige feite

* Een uit elke nege mense is voortdurend honger. In lande in Afrika suid van die ewenaar is 256,5 miljoen mense onseker oor waar hulle hul volgende bord kos gaan kry. In Asië is hierdie getal 515 miljoen.

* 200 miljoen kinders jonger as vyf jaar ervaar vertraagde groei en het nie die gewenste liggaamsgewig nie.

* 38,3 miljoen kinders is oorgewig.

* Wêreldwyd word 40,7% babas jonger as ses maande nét borsmelk gevoer.

* 672 miljoen volwassenes (een uit elke agt) is vetsugtig.


Meer oor:  Kos  |  Honger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.