Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Alaska-moord: Smith het glo seks met lyk gehad
Brian Smith tydens sy eerste hofverskyning. Foto: AP

Brian Steven Smith, die Suid-Afrikaner van Queenstown wat in Anchorage in die Amerikaanse deelstaat Alaska woon en van die moord op twee inheemse burgers beskuldig word, het glo seks gehad met die lyk van een van die twee vroue wat hy vermoor het.

Volgens die KTVA-nuusagentskap, wat in Alaska gebaseer is en met die Amerikaanse uitsaaier CBS geaffilieer is, het die klagstaat onder oë gehad, waarin die staat beweer dat Brian Steven Smith “die een of ander tyd tussen 2017 en 2018, binne of naby Anchorage, seks met ’n lyk gehad het”.

Smith is op twee aanklagte van moord in Alaska in hegtenis geneem nadat hy aanvanklik op 8 Oktober op die Ted Stevens-lughawe in Anchorage net vir die moord op Kathleen Jo Henry in hegtenis geneem is.

Die polisie het op 17 Oktober bekend gemaak dat Smith ook van die moord op ’n tweede vrou, Veronica Abouchuk (52), aangekla word nadat hy erken het dat hy ’n vrou tussen 2017 en 2018 geskiet het.

Smith het glo toe ook vir die polisie gesê waar hy haar lyk gelos het. Hy is toe ’n foto van Abouchuk gewys, waarna hy glo erken het dat dit die vrou is wat hy geskiet het.

Hy het aanvanklik tereggestaan op agt aanklagte, waaronder een van moord met voorbedagte rade, twee van moord sonder voorbedagte rade, asook twee aanklagte van seksuele aanranding sonder voorbedagte rade en drie aanklagte dat hy met bewyse gepeuter het.

Veronica Abouchuk Foto: Facebook, Anchorage Police Department

Nadat hy glo erken het dat hy Abouchuk vermoor het, is nog vyf aanklagte bygevoeg. Dit behels een aanklag van moord met voorbedagte rade, twee van moord sonder voorbedagte rade en twee aanklagte dat hy met bewyse gepeuter het, berig KTVA.

Die moord op Henry het aan die lig gekom nadat ’n inwoner ’n geheuekaart met bewyse van ’n moord daarop in ’n straat opgetel en aan die polisie oorhandig het.

Die polisie het Smith aan sy aksent herken omdat hulle besig was met ’n ander saak teen hom.

Smith het in 2014 Anchorage toe getrek, waar hy met ’n Amerikaanse burger getroud is.

Die staat versoek dat sy borgtog $2 miljoen moet wees omdat hy as ’n vlugrisiko beskou word.

Indien Smith van die moord op Henry skuldig bevind word, sal hy 99 jaar tronkstraf opgelê word.

Meer oor:  Brian Steven Smith  |  Queenstown  |  Alaska  |  Moord  |  Wêreld  |  Lyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.