Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Alles is oukei, sê Trump ná Iran VSA-soldate aanval

“Alles is oukei! Iran het missiele na twee van ons weermagbasisse in Irak afgevuur. Ons stel vas hoeveel mense in die aanval dood is en bepaal hoeveel skade berokken is. So ver lyk dit goed! Ons het verreweg die magtigste weermag met die beste toerusting in die wêreld!”

Dít is die boodskap wat pres. Donald Trump van Amerika Woensdag net voor 05:00 (SA tyd) vir Amerikaners op Twitter gestuur het nadat Iran in die vroeë ure ’n missielaanval op militêre basisse in Irak geloods het waar koalisiemagte, wat deur Amerikaanse soldate gelei word, gehuisves word.

Die aanval is uitgevoer in weerwraak ná Amerika se lugaanval verlede Vrydag op Bagdad waarin Iran se top weermagbevelvoerder, genl.maj. Kassem Soleimani, op bevel van Trump doodgemaak is.

Iran het omstreeks 01:30 (SA tyd) meer as 12 ballistiese missiele uit Iran afgeskiet na minstens twee militêre basisse in Irak, sê die Amerikaanse weermag.

Soleimani was die tweede magtigste persoon in Iran en dié land het wraak gesweer.

Iran het Woensdag verantwoordelikheid vir die aanval op die twee Amerikaanse weermagbasisse aanvaar nadat 11 van die 15 missiele wat afgevuur is, hul teikens getref het.

Die elite-Islamitiese Revolusionêre Wag (IRGC) het nadat hy verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar het, Amerika aangeraai om hul soldate uit Irak te onttrek, indien hulle wil voorkom dat meer mense doodgaan.

Amerika weier sedert die naweek om hul soldate uit Irak te onttrek, al het die parlement in Irak Maandag ten gunste daarvan gestem.

Trump het nadat hy aangekondig het dat Amerika nie sal padgee nie, gesê Amerika het ’n buitegewone duur basis in Irak en hulle sal nie padgee tot Irak hulle vir die basis terugbetaal nie.

Jonathan Hoffman, woordvoerder van die Pentagon, het Woensdagoggend gesê hulle is besig om die skade in Irak te bepaal nadat Iran die weermagbasisse aangeval het.

“Ons is besig om die situasie te monitor en besluit hoe ons sal reageer. Ons sal daarna die nodige stappe doen om Amerikaanse werkers, vennote en bondgenote in die gebied veilig te hou,” sê Hoffman.

Reuters berig Mike Pompeo, Amerika se minister van buitelandse sake, en Mark Esper, minister van verdediging, het ná die aanval na die Withuis gegaan, maar daar is nog nie duidelikheid of Amerika terug gaan aanval nie.

Mohammad Javad Zarif, Iran se minister van buitelandse sake, het ná die aanval getwiet dat Iran nie ’n oorlog wil voer nie, maar dat hulle hulself teen enige aggressie sal verdedig. – Reuters


Meer oor:  Tehran  |  Amerika  |  Oorlog  |  Iran
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.