Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Amasone-kenner vermoor toe hy inheemse groep nader

’n Topkenner van geïsoleerde stamme in die Amasone in Brasilië is dood nadat hy met ’n pyl in die bors geskiet is toe hy ’n inheemse groep genader het.

Die 56-jarige Rieli Franciscato (56) het Woensdag die Wes-Brasiliaanse staat Rondônia besoek om ’n stam te monitor as deel van sy werk vir die regering se inheemse agentskap, Funai, toe die voorval gebeur het.

’n Pyl het hom in die hart getref toe hy Woensdag in die woud naby die Uru-Eu-Wau-Wau-reservaat naby een van die groepe gekom het. Die gebied is naby die grens met Bolivia.

Volgens die BBC het Franciscato agter ’n voertuig geskuil toe hy getref is.

“Hy het gegil, die pyl uit sy bors getrek, 50 m ver gehardloop en inmekaargesak,” het ’n polisieman, wat Franciscato vergesel het, gesê.

Rieli Franciscato Foto: Reuters

Volgens Gabriel Uchida, ’n fotojoernalis in die streek, het Franciscato probeer om ’n stam, wat as die geïsoleerde groep van die Cautario-rivier bekend staan, waar te neem.

Uchida, wat ook die voorval gesien het, het gesê die stam is gewoonlik ’n vreedsame groep, maar hierdie keer was daar vyf gewapende mans.

Inheemse groepe in die Amasone en elders in die wêreld is bekend daarvoor dat hulle gewelddadig op buitestanders reageer.

Die omgewingsorganisasie Kanindé Ethno, wat Franciscato in die jare 80 gehelp stig het, het gesê die inheemse groepe het geen manier om tussen ’n vriend of vyand uit die buitewêreld te onderskei nie.

Die aanval op Franciscato kom in ’n tyd waarin inheemse mense in Brasilië toenemend deur die inval van onwettige grondgrypers, houtkappers en goudmynwerkers bedreig word. Dié indringers word aangemoedig deur die beleid van pres. Jair Bolsonaro, wat die Amasone wil ontwikkel en die inheemse inwoners daar wil verminder.

“Ons is verbyster oor die aantal sterftes in dié Brasilië wat nie meer die regte van die inheemse groepe respekteer nie,” het Ivaneide Cardozo, Franciscato se vriend en medestigter van Kanindé Ethno, gesê.

Sydney Possuelo, voormalige hoof van Funai, het gesê die aanwesigheid van die polisie kon die aanval op Franciscato veroorsaak het.

“Rieli was ’n kalm, metodiese en sagte man wat die gevare baie goed geken het, maar hy was alleen en daarom het hy die polisie gevra om hom te vergesel,” het Possuelo gesê. Reuters

Meer oor:  Brasilië  |  Amasone  |  Vermoor  |  Kenner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.