Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Ambassades staal hulle vir nóg optogte oor Jerusalem

Groot oproer heers in die Midde-Ooste nadat pres. Donald Trump Woensdag aangekondig het Amerika erken Jerusalem voortaan as die hoofstad van Israel.

Trump het dekades van Amerikaanse beleid en vredesonderhandelinge in die Midde-Ooste omver gewerp met sy kort toespraak Woensdagmiddag by die Withuis.

Israel eien die hele Jerusalem as sy hoofstad, terwyl Palestina die ooste van die stad, wat Israel in die 1967-oorlog beset het, as sy eie toe-eien.

Pres. Donald Trump. Foto: AP

Reuters berig duisende ontstoke betogers het op plekke in die Midde-Ooste en ook in Israel opgeruk. Honderde betogers, waaronder Palestynse vlugtelinge, het Woensdag buite die Amerikaanse konsulaat in Istanboel saamgedrom.

Die Palestyne het gesê die aankondiging is die doodskus vir vrede tussen Palestina en Israel en dat Trump “oorlog in die Midde-Ooste verklaar het”, berig MailOnline.

Duisende het ook in Gaza opgeruk en Amerikaanse vlae verbrand.

Nog betogings word vir Donderdag gereël.

Die Islamitiese Hamas-weerstandbeweging het ’n dreigement uitgestuur en Donderdag en Vrydag as “dae van woede” verklaar en Trump gewaarsku dat hy “die hekke van die hel oopgemaak het”.

Mahmoud Abbas, Palestynse leier, het net soos ander wêreldleiers Trump se aankondiging onmiddellik veroordeel en Amerika daarvan beskuldig dat die land uit die vredesproses “onttrek” het.

“Hierdie onaanvaarbare maatstawwe wil doelbewus alle pogings tot ’n vredesverdrag ondermyn,” het hy volgens die BBC gesê.

Hy het volgehou Jerusalem is die “ewige hoofstad van die Palestynse staat”.

Benjamin Netanyahu, Israelse premier, het natuurlik Trump se aankondig verwelkom, maar Amerika se Westerse bondgenote soos Brittanje en Frankryk is bekommerd.

Pres. Emmanuel Macron

Emmanuel Macron, Frankryk se president, het gesê sy land keur nie die besluit goed nie. “Dit is teenstrydig met internasionale wette en al die resolusies van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad.”

Rusland het ook sy kommer uitgespreek oor die “moontlike agteruitgang” wat die stap teweeg kan bring.

Intussen waarsku Amerikaanse ambassades in die Midde-Ooste en Europa alle Amerikaners wat daar woon of daarheen reis teen gewelddadige optogte, luidens Time.

Minute ná Trump se aankondiging het ambassades in Turkye, Jordanië, Duitsland en Brittanje veiligheidswaarskuwings uitgereik.

Die ambassade in Ankara, asook konsulate in Istanboel en Adana, verwag optogte.

Die ambassade in Amman is Donderdag gesluit en het werknemers verbied om die stad te verlaat.

Kinders van werknemers is aangesê om nie skool toe te gaan nie en alle Amerikaners word gevra om ’n lae profiel te handhaaf.

Ambassades in Berlyn, Londen en Minsk, Belarus, het soortgelyke waarskuwings uitgereik.

Trump se besluit het “tydelik die Israeli-Palestynse vredesproses ontspoor” het twee Withuis-amptenare ná die toespraak erken, berig CNN.

Meer oor:  Emmanuel Macron  |  Pres. Donald Trump  |  Vsa  |  Israel  |  Jerusalem  |  Wêreld  |  Optogte  |  Politiek  |  Ambassades  |  Vredesproses
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.