Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Amerika rou oor Kobe Bryant wat saam met dogter (13) sterf

Huldeblyke stroom steeds in ná die dood van die Amerikaanse basketballegende Kobe Bryant (41).

Bryant, sy dogter, Gianna (13), en sewe ander mense is dood toe die helikopter waarin hulle was Sondagoggend in Calabasas, Kalifornië, neergestort het.

Die helikopter het in mistige weer neergestort en in vlamme uitgebars, berig die Los Angeles Times.

Reuters berig hulle was op pad na Bryant se Mamba-sportakademie in die voorstad Thousand Oaks, waar Bryant sy dogter se basketbalspan vir ’n toernooi sou afrig.

Gianna, ook bekend as Gi-Gi, was ’n belowende speler wat op pad was om in haar pa se voetspore te volg en haar pa het haar sedert sy uittrede in 2016 afgerig. Hy het nog twee weke gelede in ’n onderhoud vertel hoe sy hom ’n nuwe passie vir die spel help ontwikkel het.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

Bryant, ’n vyfmalige National Basketball Association (NBA)-kampioen, het sy hele loopbaan vir die Los Angeles Lakers gespeel en word beskou as een van die beste spelers in die geskiedenis van die sport.

Huldeblyke het van beroemdes en medesportsterre ingestroom en ’n oomblik van stilte is by die NBA se kampioenskap in Amerika gehou.

Die kletsrymer Kanye West het sy waardering vir Bryant getwiet, vir “die lewe wat (hy) geleef het en al die inspirasie wat (hy) gegee het”.

Die agtmalige Olimpiese goue medalje-naelloper Usain Bolt sê dat hy nie die nuus kan glo nie.

“Vreeslike nuus” het pres. Donald Trump getwiet.

“Hy was so lief vir sy familie en het so ’n sterk passie vir die toekoms gehad. Die verlies van sy pragtige dogter, Gianna, maak hierdie oomblik nog meer verwoestend.”

Oudpres. Barack Obama het Bryant beskryf as ’n “legende op die baan”.

Bryant is ook by die Grammy-toekennings onthou wat in die Staples-sentrum, die tuiste van die Los Angeles Lakers-basketbalspan, gehou is.

“Ons voel almal nou hartseer,” het Alicia Keys, gasvrou van die Grammys, gesê.

“Want vroeër vandag het Los Angeles, Amerika en die hele wêreld ’n held verloor. Ons staan letterlik hier in die huis wat Kobe Bryant gebou het.”

Die NBA het ’n verklaring uitgereik wat sê hy is “platgeslaan” oor die tragiese nuus.

“Kobe het 20 seisoene lank vir ons gewys wat moontlik is wanneer merkwaardige talent saamsmelt met ’n absolute toewyding daaraan om te wen,” lees die verklaring.

Bryant het in 2016 uitgetree.

Hy laat sy vrou, Vanessa, en drie dogters Natalia (17), Bianka (3) en Capri, gebore in Junie verlede jaar, agter.

Die helikopter, ’n Sikorsky S-76B wat in 1991 gebou is, het die John Wayne-lughawe Sondag omstreeks 09:06 verlaat, volgens die openbare vlugrekords. Die helikopter het oor Boyle Heights, naby die Dodger-stadion, gevlieg en oor Glendale gesirkel. Die ongeluk het kort voor 10:00 gebeur.

Daryl Osby, die Los Angeles-distrik se brandweerhoof, sê die ongelukstoneel was moeilik bereikbaar en dat brandbestryders na die gebied moes stap, berig The New York Times. Dit gaan glo etlike dae neem om die slagoffers se oorskot terug te bring.

Die ongeluk het ook ’n veldbrand in ’n steil gebied veroorsaak.

Ander slagoffers was onder meer John Altobelli, ’n jare lange bofbalafrigter by Orange Coast College, asook sy vrou, Keri, en dogter Alyssa. Alyssa en Gianna was spanmaats, berig CNN. Volgens die uitsaaier is Christina Mauser, nog ’n basketbalafrigter, ook in die ongeluk dood.

Die name van die ander slagoffers is nog nie bekend gemaak nie.

Kobe Bryant
Roubeklaers het by Microsoft Square naby die Staples Center in Los Angeles bymekaar gekom. Foto: Reuters


Meer oor:  Kobe Bryant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.