Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Masels in VSA hoogste uitbreking in byna 3 dekades

Die aantal gevalle van masels wat aangemeld word, is nou die hoogste in 27 jaar in Amerika.

NBC News berig gesondheidsamptenare vrees die land kan sy maselsvryestatus verloor.

Die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) het Donderdag ’n verklaring uitgereik wat sê die 971 gevalle wat in die eerste vyf maande van 2019 aangemeld is, oorskry die totale hoeveel vir die afgelope 25 jaar – selfs 1992 toe 963 gevalle in die hele jaar aangemeld is.

NBC News berig twee dele van die deelstaat New York, Rockland County en New York City, het onderskeidelik die meeste gevalle aangemeld.

Amerika het in 2000 verklaar hulle is ontslae van die siekte, maar kan dié status verloor indien die siekte vir die res van vanjaar so gereeld aangemeld word.

Dr. William Schaffner, ’n kenner, het aan die nuusdiens gesê indien elke oningeënte kind in Amerika op een dag (Vrydag) ingeënt sou word, sal die nasionale uitbreking teen 15 Junie verby wees.

The New York Times berig nog ’n kenner, dr. Robert Redfield sê masels is voorkombaar en die manier om te verseker die uitbreking word beëindig is om alle kinders en volwassenes wat ingeënt kan word te immuniseer. Hy het ouers weer eens gerusgestel dat die entstof veilig is en nié outisme veroorsaak nie.

Trouens, kinders wat die MMR-entstof ontvang het, was 7% minder geneig om outisme te hê, volgens ’n verslag in Annals of Internal Medicine.

Dit is egter makliker gesê as gedaan omdat daar steeds ouers is wat glo die inenting veroorsaak outisme.

Reuters het vroeër berig die masels, pampoentjies en rubella-inenting (MMR) veroorsaak nié outisme nie, selfs nie vir kinders wat ’n hoë risiko daarvoor het nie.

’n Studie wat in 1998 ’n direkte verband bevind het, is onttrek en verskeie ander studies het die bevinding sedertdien verkeerd bewys. Daar is egter steeds ouers in veral Amerika en Europa wat dit nie wil aanvaar nie.

Reuters berig een van die studies wat die 1998-studie verkeerd bewys, het altesaam 657 467 kinders gevolg en outisme is by net 6 517 gediagnoseer. Trouens, kinders wat die MMR-entstof ontvang het, was 7% minder geneig om outisme te hê, volgens ’n verslag in Annals of Internal Medicine.

Die siekte is ’n hoogs aansteeklike virus wat ernstige respiratoriese simptome, koors en ’n uitslag kan veroorsaak, sowel as permanente doofheid of ernstige gevalle van inflammasie in die brein, volgens die CDC.

Netwerk24 het voorheen berig Duitsland wil dalk inentings vir masels met wetgewing verpligtend maak en ouers wat nie daaraan gehoor gee nie met 2 500 beboet.

Vorige berigte raam die hoeveelheid kinders jonger as tien jaar oud wat nie ingeënt is nie op 170 miljoen wêreldwyd. In die eerste kwartaal vanjaar het gevalle van masels met 300% toegeneem.

Meer oor:  Amerika  |  Inenting  |  Masels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.