Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Stukkie van maanlanding aan suidpunt van Afrika
Maryke Cumpsty (néé Spijkerman) en haar broer, Werner Spijkerman, met die eerstedagkoevert met die Apollo 11-span se handtekeninge. Foto: Jaco Marais

Vyftig jaar gelede het hul oupa sy eie eerstedagkoevert (’n spesiale koevert vir spesiale geleenthede) ontwerp en ’n brief na die Amerikaanse ruimtevaarder Neil Armstrong en sy span gestuur in die hoop dat hulle hul handtekeninge daarop sal aanbring en vir hom terugstuur.

Min het Lambertus (Bert) Spijkerman van Kaapstad geweet hy sou sy eerstedagkoevert – onderteken deur al drie ruimtevaarders van die Apollo 11-sending – ’n groepfoto en ’n replika van die plaatjie wat op die maan gelos is in die pos terugkry.

Bert se kleinkinders vertel hoe passievol hy oor sy seëlversameling was. Daarom het hy ’n kans gewaag deur die selfontwerpte eerstedagkoevert en ’n brief na Houston, VSA, te pos.

’n Afskrif van die eerstedagkoevert wat Lambertus Spijkerman ontwerp het met die drie ruimtevaarders se handtekeninge daarop.

Werner Spijkerman (43) en sy suster Maryke Cumpsty (néé Spijkerman) (45), albei van die Paarl, wys die koevert wat hul oupa ontwerp het, met ’n skets van die maan en die aarde in pen en stensil en geskryf in sy eie handskrif.

In die brief wat hy aan Armstrong en sy mede-ruimtevaarders geskryf het, versoek hy dat hulle hul handtekeninge tussen die maan en die aarde op die skets sal aanbring.

’n Tweede kaartjie wat Spijkerman in die pos ontvang het, saam met sy getekende eerstedagkoevert. Daarop is ook die replika van die plaatjie waarop sketse van die aarde aangebring is.

Hy het ook gevra dat hulle dit in ’n tweede koevert, wat hy saamgestuur het, terug pos Suid-Afrika toe.

“Ek is terdeë bewus daarvan dat u baie besig is, maar ek sal baie dankbaar wees as u dit vir my sal doen,” lui Bert se brief.

“Ek en my familie wens u ’n veilige reis toe en dat julle veilig sal terugkom na die aarde. Ons luister altyd na die Amerikaanse radio wanneer enigiets nuuts gebeur.”

Die ruimtevaarders het meer gedoen as wat Bert versoek het. Hulle het alles gedoen soos hy gevra het, en selfs ’n foto van hulle aangestuur. Verder het hulle ook ’n replika van die metaalplaatjie, wat hulle ’n maand later op die maan sou agterlaat, by die brief ingesluit.

Bert se brief aan Neil Armstrong.

Toe hy op 9 Junie 1969 die brief en koeverte gepos het, was daar skaars ’n maand oor voor die lansering van die Apollo 11-ruimtetuig op 16 Julie.

“Die feit dat Armstrong, Buzz Aldrin en Michael Collins die koevert geteken het, is steeds vir ons ongelooflik,” sê Maryke.

“Dit is vir ons ’n herinnering daaraan dat enigiets moontlik is. Die maanlanding was ’n droom vir baie en so was hierdie gebaar van die Apollo 11-span ook ’n droom wat vir my oupa bewaarheid is.”

Maryke sê hulle bêre die brief en koeverte in ’n lêer wat hul oupa ook self gemaak het.

* Hou www.netwerk24.com van 16 Julie af dop vir ’n spesiale multimedia-pakket oor die 50ste herdenking van die maanlanding, waar jy alles rondom hierdie geskiedkundige gebeurtenis kan lees, kyk en luister.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.