Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Armenië, Azerbeidjan skiet weer op mekaar

Minstens 16 mense is Sondag dood in die hewigste gevegte tussen Armenië en Azerbeidjan sedert 2016, wat kommer oor die stabiliteit in Suid-Kaukasië, ’n deurgang vir pypleidings wat olie en gas na die wêreldmarkte vervoer, laat opvlam het.

Die konflik tussen die twee voormalige Sowjetrepublieke, wat in die 1990’s ’n oorlog gevoer het, is die jongste opvlamming van ’n langdurige konflik oor Nagorno-Karabach, ’n wegbreekstreek wat binne Azerbeidjan is, maar bestuur word deur etniese Armeniërs.

Nagorno-Karabach het gesê 16 mense is dood en meer as 100 gewond nadat Azerbeidjan Sondag vroeg ’n lug- en artillerieaanval uitgevoer het. Armenië en Nagorno-Karabach het krygswet verklaar en die manlike bevolking gemobiliseer.

Die konflik het gelei tot ’n vlaag van diplomasie om ’n nuwe uitbreking van ’n dekades oue konflik tussen die hoofsaaklik Christelike Armenië en oorwegend Islamitiese Azerbeidjan te voorkom, met Rusland wat ’n onmiddellike skietstilstand eis en ’n ander streeksverdrag; en Turkye, wat gesê het dat hy Azerbeidjan sal steun.

Pypleidings wat Kaspiese olie en aardgas vanaf Azerbeidjan na die wêreld vervoer, gaan tot naby Nagorno-Karabach. Armenië het ook in Julie gewaarsku oor die veiligheidsrisiko’s in Suid-Kaukasië nadat Azerbeidjan gedreig het om ’n kernkragsentrale van Armenië aan te val as moontlike vergelding.

Nagorno-Karabach het in 1991 van Azerbeidjan weggebreek ná die ineenstorting van die destydse Sowjetunie.

Hoewel daar in 1994 op ’n skietstilstand ooreengekom is, beskuldig Azerbeidjan en Armenië mekaar gereeld van aanvalle rondom Nagorno-Karabach en langs die afsonderlike Azerbeidjans-Armeense grens.

In Sondag se botsings het Armeense aktiviste gesê dat ’n etniese Armeense vrou en kind ook dood is.

Internasionale diplomasie

Armenië het gesê dat Azerbaidjanse magte burgerlike teikens, waaronder die hoofstad van Nagorno-Karabach, Stepanakert, aangeval het en ’n “proporsionele reaksie” belowe het.

“Ons staan sterk agter ons leër om ons vaderland te beskerm teen die Azerbaidjanse inval,” het die Armeense premier, Nikol Pashinyan, op Twitter geskryf.

In die foto wat Sondag deur die Armeniese departement van verdediging uitgereik is, vernietig Armeense magte ’n weermagtenk van Azerbeidjan. Foto: AP

Azerbeidjan het ’n verklaring van die Armeense ministerie van verdediging ontken dat Azerbaidjanse helikopters en tenks vernietig is, en beskuldig Armeense magte dat hulle “doelbewuste en geteikende” aanvalle langs die frontlyn uitgevoer het.

“Ons verdedig ons gebied, ons saak is reg,” het die president van Azerbeidjan, Ilham Alijef, in ’n toespraak aan die land gesê.

Turkye het gesê dat hulle met lede van die Minsk-groep, wat tussen Armenië en Azerbeidjan bemiddel, praat. Rusland, Frankryk en die Verenigde State is medevoorsitters.

Pres. Wladimir Poetin van Rusland het telefonies met Pashinyan gepraat, maar geen besonderhede van die gesprek was beskikbaar nie, en die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, het met Alijef gepraat.

Erdogan, wat steun vir die tradisionele bondgenoot Azerbeidjan belowe, het gesê dat Armenië “die grootste bedreiging vir die vrede in die streek is” en ’n beroep op die hele wêreld gedoen om saam met Azerbeidjan te staan in hul stryd teen die inval en wreedhede.

Pashinyan het teruggekap en die internasionale gemeenskap versoek om te verseker dat Turkye nie by die konflik betrokke raak nie.

Frankryk het ook die partye aangemoedig om vyandelikhede te beëindig en pous Franciscus het ’n beroep op hulle gedoen om hul verskille deur middel van onderhandelinge op te los.

Die Europese Unie en die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa het ook albei partye aangemoedig om militêre aksies te staak en terug te keer na onderhandelinge.

Minstens 200 mense is dood in ’n opvlam van die konflik tussen Armenië en Azerbeidjan in April 2016. Ook sowat 16 mense is dood in botsings in Julie. – Reuters

Meer oor:  Nogorno-Karabach  |  Azerbeidjan  |  Armenië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.