Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Armstrong skik om bedrogsaak te beëindig
Lance ArmstrongFoto: Reuters/Lucas Jackson

Die fietsryer Lance Armstrong moet $5 miljoen aan die Amerikaanse regering betaal oor die gebruik van opkikkers terwyl hy meegeding het met ’n borgskap van miljoene dollar van die Amerikaanse Posdiens.

Hy het Donderdag ingestem tot ’n skikking as deel van ’n federale bedrogsaak oor sy gebruik van opkikkers in verband waarmee hy aanstaande maand in die hof moes verskyn, berig Sky News.

Volgens die Amerikaanse departement van justisie is Armstrong daarvan beskuldig dat hy sy kontrak met die posdiens verbreek het en bedrog gepleeg het deur die posdiens en publiek te mislei toe hy die gebruik van opkikkers ontken het.

Armstrong se ontkenning het glo die posdiens se besluit om voort te gaan met die borgskap van sy span in 2000 beïnvloed. Dié besluit het tot groter bedrae met die borgskap gelei en meer geld wat Armstrong verdien het. Tussen 2001 en 2004 het die posdiens $31 miljoen as deel van sy borgskap aan Armstrong betaal.

Die fietsryer Lance Armstrong aan die begin van die Kaapstad-fietstoer in 2010 (toe dit nog as die Cape Argus-fietstoer bekend gestaan het).Foto: Reuters/Mike Hutchings

Chad Readler, waarnemende assistent-prokureur-generaal van die departement van justisie se siviele afdeling, sê in ’n verklaring “niemand is bo die wet verhewe nie”.

“ ’n Mededinger wat met opset onwettige opkikkers gebruik, bedrieg nie net sy mededeelnemers en aanhangers nie, maar ook die borge wat help om kompetisies moontlik te maak.

“Dié skikking wys dat diegene wat die regering probeer verneuk, verantwoordbaar gehou sal word.”

Die siviele saak teen Armstrong kom al vanaf 2013 toe die departement hom aangesluit het by ’n saak waarin die fietsryer beskuldig is van kontrakbreuk weens die gebruik van opkikkers, berig CNN.

Dit het gevolg nadat Armstrong in ’n TV-onderhoud met Oprah Winfrey erken het dat hy opkikkers gebruik het.

In Junie 2012 het die Amerikaanse agentskap teen die gebruik van verbode middels klagte teen Armstrong ingedien, wat hy toe nog ontken het.

Later is sy sewe oorwinnings in die Tour de France en ander fietsryprestasies teruggetrek en hy is verbied om verder mee te ding.

Floyd Landis, fietsryer en ’n voormalige spanmaat van Lance Armstrong. Foto: AP Photo/Peter Dejong

Die Amerikaanse Posdiens en Floyd Landis, ’n voormalige spanmaat van Armstrong, het gesamentlik $100 miljoen (R1,19 miljard) in skadevergoeding van hom geëis en dié saak sou op 7 Mei aangehoor word, berig Sky News.

Armstrong sal ook $1,65 miljoen vir Landis se regskoste en $1,1 miljoen as deel van die skikking aan hom betaal.

“Ek is bly om dié saak af te handel en voort te gaan met my lewe,” sê Armstrong (46) in ’n verklaring.

“Ek sien daarna uit om myself te wy aan die talle goeie dinge in my lewe – my vyf kinders, my vrou, my webuitsending, verskeie opwindende skryf- en rolprentprojekte, my werk as iemand wat kanker oorleef het en my passie vir sport en mededinging.”

Elliot Peters, sy prokureur, sê dat die skikking alle hofsake teen Armstrong in verband met sy erkenning in 2013 tot ’n einde bring.

Volgens Armstrong was die aansoek teen hom egter “sonder meriete en onbillik”.

Meer oor:  Lance Armstrong
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.