Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
As Mosambiek vra, sal Frankryk in Cabo Delgado help – Macron

Afrika moet self die probleme in die geweldgeteisterde Cabo Delgado-provinsie van Mosambiek oplos, maar Frankryk is bereid om te help as Mosambiek hom amptelik sou versoek.

Só het pres. Emmanuel Macron, president van Frankryk, Vrydagmiddag op ’n staatsbesoek aan Suid-Afrika in die Uniegebou in Pretoria ná ’n vergadering met pres. Cyril Ramaphosa gesê.

Frankryk het ’n regstreekse belang in wat in die gas- en olieryke Cabo Delgado aangaan omdat die Franse oliereus Total ’n reusebelegging in ’n vloeibaregasprojek daar het.

Total moes sy werksaamhede staak ná bloedige aanvalle in Maart op die kusdorp Palma, waar die meeste van Total se bedrywighede is. Militante, wat al die afgelope vier jaar in dié gebied bedrywig is, was vir dié aanvalle verantwoordelik en geniet steun van die Islamitiese Staat.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk en pres. Cyril Ramaphosa Vrydagmiddag by die Uniegebou in Pretoria. Foto: GCIS

Macron het op ’n mediakonferensie gesê Frankryk kan baie gou fregatte van die Franse vloot na die kus van Cabo Delgado stuur as die Mosambiekse regering dit sou versoek.

Macron sê hy en Ramaphosa het op hul vergadering heelwat aandag aan die probleme in Mosambiek gegee

“Ek het verlede week op ’n beraad (wat Frankryk aangebied het om ekonomieë in Afrika te help) in Parys met pres. Filipe Nyusi (die Mosambiekse president) oor die situasie gepraat."

Ramaphosa het gesê die kwessie is Donderdag op ’n vergadering van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se veiligheidsgroepering in Maputo indringend met Nyusi bespreek.

“Ons het ’n volledige voorlegging van die taakspan ontvang wat vroeër ’n besoek aan Cabo Delgado gebring het. Ons het ook gehoor wat Mosambiek se behoeftes is,” het Ramaphosa gesê.

Hy het Macron se aanbod verwelkom en gesê Mosambiek het nie net militêre hulp nodig nie, maar ook tegniese, ekonomiese en humanitêre hulp.

“Ons (die SAOG) aanvaar Mosambiek se soewereiniteit, maar besef dit is ’n land met baie groot uitdagings,” het die Suid-Afrikaanse staatshoof gesê.

Ons (die SAOG) aanvaar Mosambiek se soewereiniteit, maar besef dit is ’n land met baie groot uitdagings.

Die SAOG en Mosambiek het ná die vergadering geen aanduiding gegee van die moontlike betrokkenheid van ’n ingrypingsmag van die SAOG in Cabo Delgado nie.

Die SAOG het aanvanklik ’n ingrypingsmag van sowat 3 000 soldate, vliegtuie, skepe, helikopters en ’n duikboot voorgestel.

Die SAOG meen ’n ingrypingsmag sal nie net vir Mosambiek help nie, maar ook keer dat die terreur na ander lande in die streek oorspoel.

Nyusi het dit al in die verlede duidelik gemaak dat hoewel Mosambiek dankbaar is vir die hulp wat die SAOG aanbied, is hy nie bereid om sy land se soewereiniteit in gevaar te stel nie.

Kenners meen ook ’n politieke oplossing eerder as militêre ingryping is die antwoord.

Dit is duidelik daar is by pres. Nyusi steeds ’n onwilligheid om buitelandse betrokkenheid te aanvaar.

Reuters het vroeër berig die Suider-Afrikaanse leiers het op die vergadering gesê hulle sal met Mosambiek saamwerk om sy veiligheidsmagte te steun in sy stryd teen die Moslem-ekstremiste.

Prof. Theo Neethling, ’n Afrika-kenner van die Universiteit van die Vrystaat, het die ontmoeting tussen die SAOG se veiligheidsgroepering en Nyusi beskryf “as nóg ’n hoëvlakvergadering van leiers in Suider-Afrika wat nie ’n enkele stap nader aan ’n positiewe uitkoms vir die geweldgeteisterde Cabo Delgado gebring het nie”.

“Dit is duidelik daar is by pres. Nyusi steeds ’n onwilligheid om buitelandse betrokkenheid te aanvaar,” sê Neethling.

’n Buitengewone leiersberaad van dié groepering sal wel op 20 Junie in Mosambiek gehou word.

Donderdag se vergadering is gelei deur Botswana se pres. Mokgweetsi Masisi, voorsitter van die veiligheidsgroepering.

Suid-Afrika, Zimbabwe, Malawi en Tanzanië is ook deel van die veiligheidsgroepering.

Nyusi het ná die vergadering gesê die Suider-Afrikaanse leiers het nou ’n beter idee van die “tasbare stappe” wat gedoen moet word om die geweldpleging te beëindig.

Neethling sê ’n risiko-ontleder in Maputo het aan hom gesê daar is “chaos in Cabo Delgado”.

Meer oor:  Emmanuel Macron  |  Cabo Delgado  |  Geweld  |  Hulp  |  Probleme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.