Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Aussie-brande: Sielkundige letsels gepak

’n Fonds is die naweek op die been gebring om Australiërs wat weens die bosbrande aan post-traumatiese stres ly, te help om dié omgewingsramp te verwerk.

Scott Morrison, Australiese premier, het Sondag op Twitter gesê die “verskriklike brande het ’n traumatiese emosionele uitwerking” op die land se mense.

Hy het aangekondig sy regering het A$ 76 miljoen (sowat R753 miljoen) opsygesit om mense wat deur die bosbrande geraak is, met emosionele hulp en raad by te staan.

Die brandbestryders, noodpersoneel en ander wat deur die omgewingsramp geraak is, sal voorkeur kry wanneer hulle om hulp aanklop.

“Die geld sal gebruik word om gratis sielkundige en psigiatriese berading te lewer.”

Beradingsdienste sal persoonlik of telefonies gelewer word,” het Morrison gesê. Hy het veral jong Australiërs én mense wat alles in die brande verloor het, aangemoedig om van die diens gebruik te maak.

Trevor Stewart, ’n brandweerman, kyk na ’n stuk flankvuur in Tumburumba, ’n dorpie in die Suid-Ooste van Australie. 20 mense, wat drie brandbestryders insluit, het die afgelope paar weke in bosbrande omgekom.Foto: Getty

“Ons sal voortgaan om als in ons vermoë te doen om Austra­liërs wat deur die trauma geraak is, te help. Ons sal ook help om gemeenskappe weer op te bou.”

Morrison het luidens ’n verklaring op Twitter gesê: “Die omvang van die brande is ongeëwenaard.”

Dit is die grootste en ergste brande wat Australië in menseheugenis getref het. Hy het daarop gewys dat sowel die gebied wat geraak is, as die duur van die brande ongekend is in Australië se geskiedenis.

“Die brande het tragiese lewensverlies tot gevolg gehad. Mense is daardeur beseer en ons landskap is geskend. Maar soos wat ek ook op grondvlak gesien het, het die brande ’n ernstige emosionele en traumatiese letsel op baie mense gelaat.

“Ons moet sorg dat ons mense sielkundige hulp kry en ondersteun word.”

Volgens Morrison is die sielkundige en psigiatriese hulp wat die regering sy mense gaan gee, ongekend in die geskiedenis van Australië.

Greg Hunt, die land se minister van gesondheid, het gesê die fonds is deel van die regering se “omvattende reaksie” op die bosbrande.

Hy het mense gevra om na die regering uit te reik en van die dienste gebruik te maak.

Stuart Robert, minister van regeringsdienste, het dit as ’n “heel nuwe en buitengewone diens” beskryf wat nog nooit in die geskiedenis van die land aangebied is nie.

Die psigiatriese en sielkundige dienste begin einde vandeesweek en sal vir die volgende twee jaar volgehou word, het Robert gesê.

Die regering gaan ook A$1 miljoen (R9,9 miljoen) bewillig vir die opleiding van personeel om professionele beraders, sielkundiges en psigiaters by te staan. ’n Grootskeepse koördineringsplan vir dié sielkundige dienste sal vandeesweek saamgestel word, het Stuart gesê.

Dr. Diane Ross-Glazer, ’n Amerikaanse psigoterapeut, het einde verlede week aan Time gesê mense wat deur omgewingstrauma gaan, soos diegene in Australië, treur nie net oor die besittings wat hulle verloor het nie. “Hulle treur oor hul land.”

  • The American Psychological Association het aan die tydskrif gesê natuurrampe soos dié in Australië kan daartoe lei dat mense wat direk en indirek geraak word, aan langdurige stres, gemoedsversteurings, hartseer, depressie en angs ly. Dit kan ook ’n negatiewe invloed op menslike verhoudings hê, het die nuustydskrif berig. 27 mense is sedert September in die bosbrande dood, 1,25 miljard wilde diere het doodgebrand en 10,3 miljoen hektaar grondgebied is verwoes. 2 500 geboue, waaronder 1 300 huise, is deur die brande in puin gelê.
Meer oor:  Australië  |  Berading  |  Trauma  |  Sielkundige Letsels  |  Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.