Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Aussies in sak en as ná bosbrande
Scott MorrisonFoto: Getty

Die lewensgeluk en -tevredenheid van die meeste volwassenes in Australië het in die laaste paar maande weens die omvangryke bosbrande drasties afgeneem.

Die meeste inwoners beskou nou klimaatsverandering en ander kwessies oor die natuurlike omgewing as “potensiële bedreigings”, blyk uit ’n meningspeiling wat die sentrum vir maatskaplike navorsing van die Na­sionale Universiteit van Austra­lië gedoen het.

Die meningspeiling is van 20 Januarie tot 3 Februarie gedoen en die resultate daarvan is gister gepubliseer.

Luidens die verslag daaroor, “Ex­posure and the impact on attitudes of the 2019-’20 Australian Bushfires”, was die brande wat in die Australiese lente begin en tot verlede week plek-plek gewoed het, “ongeëwenaard in omvang”.

Die impak daarvan is van internasionale belang, sê die navorsers.

Die Australiese regering het verlede Donderdag gesê die brande is nou vir die eerste keer in bedwang.

Die opstellers van die verslag sê die grootste deel van die bevolking – sowat 78,6% – is deur die brande geraak, direk of indirek.

Minstens 2,9 miljoen Australiërs se eiendom is in die brande vernietig of beskadig.

“Ons meen die brande het minstens 2,9 miljoen Australiërs se eiendom vernietig of beskadig.

“Die meeste van dié mense moes in ’n stadium hul huise ontruim. Dit het daartoe gelei dat hulle ook nie by hul werk kon uitkom nie.”

Die bosbrande het die lewe van sowat 15,4 miljoen van die land se 24,6 miljoen inwoners ontwrig deurdat hulle hul reis- of vakansieplanne moes kanselleer of verander.

Van die mense moes behandeling vir rookinaseming kry. Ander sê hulle voel angstig en bekommerd.

Die peiling wys Australiërs is ongelukkig met die rigting waarin die land beweeg en vertroue in Scott Morrison se federale regering het met 10,9 persentasiepunte tot net 27,3% getuimel.

Morrison se “gewildheid” het van 5,25 uit 10 voordat die brande uitgebreek het tot 3,92 uit 10 gedaal.

Die navorsers sê die manier waarop Morrison die bosbrande hanteer het, het mense negatief teenoor hom gemaak.

Minder as die helfte van die Australiese bevolking het vertroue in die staatsdiens, 73,8% het vertroue in die polisie en 93% het aangedui hulle het vertroue gehad in diegene wat gehelp het om die brande te bestry.

Die navorsers sê in 2008, toe ’n peiling ook gedoen is, was min Australiërs bekommerd oor die natuurlike omgewing.

Dít het nou heeltemal verander en die meeste van die respondente in die huidige peiling het aangedui hulle is baie bekommerd oor die verlies aan inheemse spesies en habitat. Van die mense sê hulle is bekommerd oor droogtes en die uitdroog van woude.

Net sowat drie uit tien mense het aangedui hulle sal nuwe steenkoolmyne ondersteun.

  • Wat die verslag nog uitlig: 110 000 km² grondgebied het verbrand. Hiermee saam het die land 1 miljard voëls, soogdiere, reptiele, insekte, vis en amfibieë weens die bosbrande verloor;) 33 mense is dood; en) 3 000 huise het afgebrand en “duisende meer” is erg beskadig.
Meer oor:  Australië  |  Australië-Brande  |  Depressie  |  Bosbrande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.