Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Australiese egpaar skuil glo in SA van die gereg
Tiziana, Daniela en Giacoma (Jack) Merolla Foto: Facebook

’n Australiese egpaar wat deur die polisie weens korrupsie en geldwassery gesoek word, bevind hulle moontlik in Suid-Afrika.

Daniela Merolla het vermoedelik in Maart vanjaar na Suid-Afrika gevlug. Foto: Verskaf
Giacoma Merolla bevind hom vermoedelik in Suid-Afrika. Foto: Verskaf

Giacoma (Jack) (54) en Daniela Merolla (54) het glo in Maart vanjaar landuit gevlug kort nadat hulle uitgevind het daar is ’n polisieondersoek teen Merolla. Hy was toe nog een van die bestuurshoofde van die Fremantle-hawe in Perth.

Merolla was hoof van die afdeling verantwoordelik vir aankope en verkryging van goedere en dienste vir die hawe.

Samuel Dinnison, polisiewoordvoerder van Wes-Australië, sê die polisieondersoek na Merolla het in Desember begin nadat die bestuur van die Fremantle-hawe op onreëlmatighede ten opsigte van aankope afgekom het.

Die bedrog dateer glo sover terug as 2014.

Merolla het glo rakmaatskappye in Australië, Amerika, Hongkong en Singapoer geregistreer. Die Fremantle-hawe het goedere by dié ondernemings gekoop en Merolla het die fakture en/of betalings aan die ondernemings goedkeur.

Ken Foster, hoof van die polisie se finansiële misdaadeenheid, sê bedrog van nagenoeg A$1 miljoen word ondersoek.

Die bedrag kan hoër wees.

Merolla het glo die geld gebruik om te betaal vir sy gesin se luukse lewe. Hy en Daniela het twee kinders, Tiziana (28) en Paolo (23).

Die kinders is reeds in hegtenis geneem weens hul beweerde betrokkenheid by die bedrogspul.

Tiziana en Paolo het op 30 Junie in ’n hof in Perth verskyn en is op borgtog vrygelaat. Hulle moet weer op 11 Augustus in die hof verskyn.

Tiziana staan op twee aanklagte van geldwassery tereg en Paolo op sewe aanklagte.

Volgens Foster word 23 aanklagte van korrupsie ter waarde van sowat A$140 000 en 34 aanklagte van geldwassery ter waarde van sowat A$64 000 teen Merolla ondersoek.

Daniela word weens 24 aanklagte van geldwassery ondersoek.

Tiziana Merolla, haar ouers, Daniela en Giacoma (Jack), en Paolo. Foto: Facebook

Foster sê lasbriewe vir hul inhegtenisneming is uitgereik en die polisie in Wes-Australië werk met internasionale owerhede saam om die egpaar na Australië terug te bring.

Hy wou egter nie sê watter internasionale owerhede nie. Foster het egter bevestig dat die egpaar die land in Maart vanjaar verlaat het en dat hulle vermoedelik in Suid-Afrika is omdat hulle al voorheen in Suid-Afrika gewoon het.

“Ons wil hulle aanraai om terug huis toe te kom om die situasie hier uit te sorteer. Want ons gaan hulle uiteindelik in hegtenis neem.”

Australië het ’n uitleweringsooreenkoms met Suid-Afrika.

Foster sê die Australiese polisie het ontdek dat die Merolla-egpaar probeer het om van hul bates wat nog in Australië is, ontslae te raak.

Hul kinders is in hegtenis geneem nadat hulle glo probeer het om die gesin se huis Woodvale, Perth, te verkoop.

Die polisie het ook in ’n kluis in ’n bergingsfasiliteit op A$70 000 afgekom. Foster sê dit is vermoedelik deel van die geld wat Merolla na bewering oor die jare gesteel het.

Kol. Brenda Muridili, ’n polisiewoordvoerder, sê die Suid-Afrikaanse polisie het nog geen kennisgewing van die Australiese polisie oor die Merollas gekry nie. “Ek is seker dit is nog op pad.”

Bron

Meer oor:  Geldwassery  |  Egpaar  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.