Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Barbados wil koningin nie as hul staatshoof hê

Barbados wil koningin Elizabeth nie langer as sy staatshoof erken nie en wil ’n republiek wees, sê die regering van die eilandstaat.

Die plan is al voorheen opgehaal, maar dit het nog nooit geslaag nie.

Barbados, wat in 1966 sy onafhanklikheid van Brittanje gekry het, het sy formele bande met die koningshuis behou.

“Die tyd het gekom om ons koloniale verlede finaal agter te laat,” het Sandra Mason, goewerneur-generaal, Dinsdag in haar toespraak by die parlementsopening gesê.

“Barbadane wil ’n Barbadaanse staatshoof hê. Dit sal die beste uitdrukking wees van die selfvertroue wat ons het – in wie ons is en in wat ons kan bereik.

“Daarom sal Barbados die volgende logiese stap doen in die rigting van volle soewereiniteit.

“Ons sal ’n republiek word teen die tyd wanneer ons ons 55ste herdenking van ons onafhanklikheid vier.”

Daardie viering word vir November volgende jaar beplan.

Die Buckingham-paleis het by navraag gesê dit is ’n saak wat die mense van Barbados moet uitpluis.

Koningin Elizabeth Foto: REUTERS

Die Britse departement van buitelandse sake het dié standpunt herhaal.

“Barbados en Brittanje is verenig in ons gedeelde geskiedenis, kultuur, taal en veel meer.

“Ons het ’n onuitwisbare vennootskap en sal met hom bly saamwerk, asook met al ons ander vennote in die Karibiese gebied,” sê ’n woordvoerder van die departement.

Tans word die goewerneur-generaal deur die koningin aangewys nadat sy die eiland se premier geraadpleeg het.

Dié persoon verteenwoordig haar by formele geleenthede, soos by die opening van die parlement.

Brittanje het ’n reuserol in die geskiedenis van die eiland gespeel. Dit is in 1625 deur kapt. Henry Powell vir Engeland op­geëis. Dit het sedertdien in Britse hande gebly, tot met onafhanklikwording, in teenstelling met die meeste ander eilande in die gebied, waaroor die Engelse, Spanjaarde, Nederlanders, Franse en Amerikaners gereeld in ’n stryd gewikkel was.

Swart slawe is van Afrika daarheen gebring om in die suikerplantasies te werk. Die huidige bevolking van sowat 300 000 is meestal hul nasate.

Die sterk koloniale bande met Brittanje is wel steeds sigbaar.

Dorpe dra name soos Hastings en die nasionale sport is krieket. – Reuters

Meer oor:  Koningin Elizabeth  |  Barbados  |  Staatshoof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.