Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Bernie maak pad vir Biden oop

Bernie Sanders, wat die progressiewe vleuel in die Amerikaanse Demokratiese Party verteenwoordig, het gister die handdoek ingegooi.

Sen. Joe Biden is nou die enigste oorblywende presidentskandidaat in die party en sal waarskynlik in November pres. Donald Trump by die stembus pak.

CNN berig Sanders (78) het sy besluit gister in ’n videoboodskap aan sy veldtogpersoneel bekend gemaak.

Die verspreiding van die Covid-19-virus in Amerika het veroorsaak dat sowel Biden as Sanders die openbare geleenthede in hul veldtogte moes laat vaar.

Sanders se laaste openbare optrede was op 9 Maart.

Hy het daarna grootliks probeer om Biden se voorsprong met aanlyn boodskappe en televisieonderhoude af te takel en op die regering se gebrekkige reaksie op die verspreiding van die virus te hamer.

Talle voorverkiesings in deelstate is ook uitgestel. In dié verkiesings–word bepaal hoeveel verteenwoordigers elke kandidaat na die Demokratiese konvensie sal stuur waarop die finale kandidaat aangewys sal word.

Die konvensie is verlede week van Julie na Augustus uitgestel.

Bernie Sanders praat gister per videoskakel met sy veldtogpersoneel. Foto: AP

Michigan het gister steeds sy voorverkiesing op die gewone manier beslis – deur partylede in rye te laat staan en te stem. Vroeë aanduidings was dat Biden weer goed gevaar het.

Waarnemers het reeds voor die voorverkiesing in Michigan gesê as Sanders nie daar ’n duik in Biden se voorsprong maak nie, is dit neusie verby vir hom.

Daar is eenvoudig nie meer genoeg deelstate oor wat voorverkiesings moet hou en waar hy baie steun het nie, het CNN berig.

Sanders het aanvanklik, tydens die heel eerste drie voorverkiesings in Februarie, baie goed vertoon, maar daarna teruggesak.

Biden het ’n suksesvolle terugvegpoging geloods wat einde Februarie met ’n sege in Suid-Carolina begin het.

Hy het die laaste tyd vanweë sy voorsprong begin optree asof hy reeds die party se verkose kandidaat is deur byvoorbeeld te praat oor wie hy gaan kies om saam met hom in die presidentsverkiesing te staan.

Sanders sê hy kry nie genoeg steun van jongmense nie.

Een van die grootste probleme was egter weer sy onvermoë om swart kiesers agter hom te verenig, het The New York Times geskryf.

Hy het in 2016 vir die eerste keer deelgeneem aan die wedloop om as die Demokratiese Party se presidentskandidaat benoem te word, maar is toe deur Hillary Clinton uitgeskakel.

Hy het een staat ná die ander in die suide, waar swart kiesers ’n groot deel van dié party se steun uitmaak, verloor: Alabama, Suid- en Noord-Carolina, Mississippi en Virginia. Dit het hom waarskynlik sy benoeming gekos.

Meer oor:  Bernie Sanders  |  Onttrek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.