Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Besmettings in Italië ‘dalk tien keer meer’

Die aantal koronavirusbesmettings in Italië is moontlik tien keer meer as die amptelike syfer van sowat 64 000, het die hoof van die agentskap wat die data versamel Dinsdag gesê.

Die jongste syfers toon dat 6 077 mense in minder as ’n maand dood is, wat Italië die land in die wêreld maak wat die ergste getref is met amper dubbeld die aantal sterftes as in China waar die virus verlede jaar ontstaan het.

Tonele uit die 1952-rolprent Le ragazze di Piazza di Spagna’ (‘Drie meisies van Rome’), met Lucia Bose in die middel, word op die muur van ’n gebou in Rome geprojekteer. Dit is ’n inisiatief van Rome se rolprentfees-afdeling Alice in the Cities. Bose het Maandag in Segovia, Spanje, aan longontsteking gesterf. Foto: AP

Toetsing vir die siekte is dikwels beperk tot mense wat vir hospitaalsorg gevra het, wat beteken duisende gevalle het ongesiens verbygegaan.

“ ’n Verhouding van een gesertifiseerde geval uit elke 10 is geloofwaardig,” het Angelo Borrelli, die hoof van die burgerlike beskermingsagentskap, aan die koerant La Repubblica gesê en aangedui hy glo tot 640 000 mense in dié land is met die virus besmet.

Hy het gesê die groot probleem waardeur Italië in die gesig gestaar word, is ’n tekort aan maskers en ventilators wat die gesondheidstelsel sedert die eerste geval op 21 Februarie in die Lombardy-streek teister.

Italië probeer voorraad van oorsee kry, maar Borrelli het gesê lande soos Indië, Romenië, Rusland en Turkye het verkope gestaak. “Ons is in kontak met die ambassades, maar ek is bevrees geen maskers sal van oorsee kom nie,” het hy gesê.

’n Ligpunt is egter dat die dodetal in Italië Maandag met 602 toegeneem het, die kleinste toename in vier dae, terwyl die aantal nuwe gevalle ook afgeneem het, wat die hoop laat opvlam dat die aggressiefste fase van die epidemie in dié land aan die afneem is.

Die burgerlike beskermingsagentskap het gesê die getal sterfgevalle staan op 6 077, met 63 927 bevestigde gevalle van besmetting, ’n toename van 4 789 oor 24 uur – die kleinste toename oor vyf dae.

“Vandag (Maandag) is moontlik die eerste positiewe dag wat ons in dié harde, baie moeilike maand gehad het,” het Siulio Gallera, mediese hoof in die noordelike deel van Lombardy, wat die ergste geraak is, gesê.

“Dit is nog nie tyd om oorwinningsliedere te sing nie, maar ons begin die lig aan die einde van die tonnel sien,” het hy aan verslaggewers gesê.

Daar was egter ook ’n aansienlike insinking in die aantal mense wat getoets is, en Silvio Brusaferro, hoof van Italië se nasionale instituut vir gesondheid, het gister gesê dit was te gou om te sê of die onlangse afname van daaglikse sterftes en nuwe besmettings sal voortduur.

Vakbonde in Lombardy het vroeër aangekondig hulle gaan Woensdag staak om die gesondheid van hul werkers te beskerm en het gesê die tydelike sluiting van ondernemings het te veel skuiwergate.

Die noordelike streke van Italië het tot dusver die oorweldigende deel van die krisis gedra, maar dit is kommerwekkend dat die virus na die armer suide kan versprei waar die gesondheidstelsel nie so goed toegerus is nie.

Die eerste sterfte in die suide is Maandag in die suidelike streek van Basilicata aangeteken, wat beteken al 20 streke van Italië het nou sterftes aangeteken. – Reuters

Meer oor:  Italië  |  Besmettings  |  Covid-19-Virus  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.