Terwyl Jeff Bezos, die rykste persoon in die wêreld en Amazon-baas, en die tydskrif National Enquirer oor Bezos se intieme foto’s baklei, het die gewilde Saturday Night Live-reeks en Saoedi-Arabië ook ’n stekie na hom probeer inkry.

Jeff Bezos. Foto: Getty Images
Bezos het Donderdag met die sak patats vorendag gekom en erken dat American Media Inc (AMI), die uitgewer van die smeerblad National Enquirer, hom oor intieme foto’s gedreig het wat hy glo vir sy nuwe liefde, die voormalige TV-aanbieder Lauren Sanchez, gestuur het.
Die National Enquirer het glo gedreig om die foto’s te publiseer op dieselfde dag as wat Bezos en sy vrou, MacKenzie, aangekondig het dat hulle ná 25 jaar gaan skei.
David Pecker, die uitvoerende hoof van AMI, se prokureur, Elkan Abramowitz, sê die foto’s van Bezos kom nie van pres. Donald Trump, van Roger Stone (wat as Trump se adviseur werk) of van Saoedi-Arabië af nie, maar van iemand wat Bezos ken.
Abramowitz sê hulle het die foto’s by ’n betroubare bron gekry en dit is glad nie gebruik vir afpersing nie, berig Bloomberg.
Die vinger is intussen ook na Saoedi-Arabië gewys omdat dié land ontken het dat hy iets met die uitlek van die foto’s te make het. Die land meen die hele gedoente klink soos ’n sepie, berig The Guardian.
Die Saturday Night Live-span het Bezos se intieme foto’s bespreek.