Joe Biden, aangewese Amerikaanse president, kondig Dinsdag sy keuses vir sy kabinet aan, al weier pres. Donald Trump steeds om toe te gee dat Biden die verkiesing gewen het.
Biden is reeds besig om die grondslag vir sy administrasie te lê. Bronne meen hy sal Antony Blinken, ’n veteraan-diplomaat, as hoof van die departement van buitelandse sake aanstel.
Bloomberg News het vroeër berig Blinken sal Biden se keuse wees. Blinken kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Biden het verlede week gesê hy het op ’n minister van finansies besluit. Dr. Janet Yellen, die voormalige Fed-voorsitter, is vermoedelik die beste kandidaat in demokratiese en monetêre beleidskringe.
’n Woordvoerder van Biden se oorgang wou nie kommentaar lewer nie.
Ron Klain, Biden se keuse as personeelhoof van die Withuis, het aan ABC se program This Week gesê Biden se eerste kabinetskeuses sal Dinsdag aangekondig word.
Klain het weer daarop aangedring dat die Trump-administrasie – spesifiek die land se algemene administratiewe agentskap (GSA) – Biden se oorwinning formeel erken ten einde hulpbronne vir die oorgangsproses oop te sluit.
“Ek hoop die administrateur van die GSA sal haar werk doen,” sê Klain, met verwysing na Emily Murphy, GSA-hoof.
Biden neem op 20 Januarie die leisels oor.
“ ’n Rekordgetal Amerikaners het Trump se presidentskap verwerp en sedertdien het Donald Trump demokrasie verwerp,” het Klain aan This Week gesê.
Sedert Biden, ’n Demokraat, twee weke gelede as die wenner van die verkiesing op 3 November verklaar is, het die Republikeinse president ’n vlaag regsgedinge van stapel gestuur en ’n veldtog gevoer om te probeer voorkom dat staatsamptenare hul stemuitslag bekragtig.
Biden het landwyd ses miljoen meer stemme gekry as Trump en het met 306 teenoor 232 geseëvier in die kieskollege wat uiteindelik die nuwe president aanwys.