Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Biden begin sommer Woensdag om Trump-spore uit te vee

Die aangewese Amerikaanse president, Joe Biden, beplan ’n bedrywige inhuldigingsdag deur die magte van sy nuwe kantoor te gebruik om beleidsveranderings oor behuising, studielenings, klimaatsverandering en immigrasie aan te kondig, het ’n top-assistent Saterdag gesê.

Biden, wat hom beywer het vir ’n reeks optredes om die nalatenskap van pres. Donald Trump ongedaan te maak – selfs voordat die nuwe koronavirus-pandemie die land geteister het – sal Woensdag 'n aantal uitvoerende stappe aankondig wat voorheen beloof is, het Ron Klain, Biden se nuwe stafhoof, in ’n memorandum aan verslaggewers gesê.

Biden word Woensdag as die nuwe Amerikaanse president ingehuldig.

Die stappe wat reeds Woensdag gedoen sal word, sluit in om weer aan te sluit by die Paryse klimaatooreenkoms, die ophef van ’n reisverbod op verskeie Moslemlande, die uitstel van die federale studentelening, om uitsettings en negering te staak, asook om maskers gedurende reise deur staatsamptenare en op federale eiendom verpligtend te maak.

Al die maatreëls is voorheen aangekondig.

Die meeste van die maatreëls is ’n ommekeer van die beleid wat Trump gevolg het en vereis geen optrede van die kongres nie. Maar Biden sal ook ’n langverwagte immigrasievoorstel bekend maak wat miljoene ongedokumenteerde immigrante ’n pad na burgerskap sal bied, wat wel optrede deur die kongres sal benodig.

Met hierdie maatreël, sowel as Biden se onlangse voorstel om $1,9 biljoen aan Covid-19-inentings en ekonomiese stimulasie te bestee word die kongres onder beheer van Biden se Demokrate deur 'n opdraande stryd in die gesig gestaar.

’n Breër stel van Biden se “Dag een”-beloftes sal in die nege dae ná die inhuldiging uitgevoer word, het Klain gesê.

Hierdie maatreëls sluit in die uitbreiding van Covid-19-toetse en die opdrag dat die regering Amerikaanse goedere moet bevoordeel wanneer hy aankope maak.

“Die aangewese president neem die presidentskap aan in ’n oomblik van ernstige krisis vir ons land,” het Klain gesê.

“In die veldtog het president Biden belowe om onmiddellik op te tree om hierdie krisisse te takel en beter op te bou.”

Betogers sou na verwagting Sondag na staatshuise oor die hele land opruk ter ondersteuning van ongegronde bewerings dat verkiesingsbedrog Trump van ’n tweede termyn beroof het, maar die nasionale wag is by talle staatsinstellings in baie van die deelstate ontplooi.

Meer as ’n dosyn deelstate het die troepe van die nasionale wag opgeroep om hul hoofstadsgeboue te help beveilig ná ’n waarskuwing van die Amerikaanse federale speurdiens (FBI) oor gewapende betogings, met regse ekstremiste wat aangemoedig is deur die dodelike aanval op die kongresgebou in Washington op 6 Januarie.

Lede van die nasionale wag patrolleer Vrydag die gebied om die Amerikaanse kongresgebou, die Capitol. Foto: Reuters

Daar was Saterdag verspreide demonstrasies, maar staatsgeboue was meestal stil.

Veiligheidsbeamptes beskou Sondag as die eerste groot vlampunt voor Woensdag se inhuldiging.

Terwyl baie state heinings of ander hindernisse opgerig het om hul staatsgeboue te beveilig, het Texas en Kentucky die verdere stap gedoen om hul wetgewergeboue en -terreine vir die publiek te sluit.

In Washington DC, waar Biden Woensdag om 12:00 plaaslike tyd ingehuldig word, was die strate Saterdag verlate te midde van buitengewone veiligheidsmaatreëls.

Talle strate was gesluit en bataljons van die nasionale wag het in die middestad posisies ingeneem.

Intussen het beamptes Vrydagaand in Washington DC ’n man in Virginia in hegtenis geneem wat deur ’n polisie-kontrolepunt van die kongresgebou wou beweeg met vervalste dokumente, ’n gelaaide pistool en meer as 500 rondes ammunisie, berig The Guardian.

Die man is in hofstukke as Wesley Allen Beeler geïdentifiseer. - Reuters, CNN en The Guardian.

Meer oor:  Joe Biden  |  Washington  |  Amerika  |  Capitol  |  Inhuldiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.