Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Biden begin sy 4 j. met bevele oor klimaat

Enkele ure nadat hy as Amerika se 46ste president beëdig is, het Joe Biden verskeie uitvoerende bevele uitgevaardig in ’n kragdadige poging om die klimaatkrisis te help bestry en die land se leierskap op dié gebied te herstel.

John Kerry, die Biden-administrasie se spesiale gesant vir die klimaat, het Donderdag onder meer getwiet: “Vandag het die president Amerika weer by die lande laat aansluit wat die Parys-klimaatverdrag onderteken het. Daarmee het hy Amerika se aansien as leier op dié gebied in ere herstel.”

Biden se bevele oor klimaatsverandering is op die Withuis se webblad gepubliseer. Dit is naas die Covid-19-pandemie die belangrikste uitdaging vir die Biden-administrasie.

Wêreldleiers is merkbaar verlig dat die VSA onder pres. Joe Biden weer gaan saamwerk in die wêreldwye poging om die klimaatkrisis die hoof te bied. Die foto is in 2020 voor die Reichstag in Berlyn geneem. Foto: AP

Sy bevel dat Amerika homself opnuut tot die Parys-verdrag verbind, is in dié stadium net ’n kennisgewing aan die Verenigde Nasies se Interregeringspaneel op Klimaatsverandering (UNFCCC) en sal eers oor 30 dae van krag word.

Oudpres Donald Trump het in 2017 aangekondig dat Amerika, naas China die wêreld se grootste lugbesoedelaar, hom aan die verdrag onttrek, ’n stap wat amptelik op 4 November verlede jaar van krag geword het.

Trump het ook alle verwysings na klimaatsverandering of die klimaatkrisis van die Withuis se webblad laat verwyder.

Biden het ná sy inhuldiging ook die permit vir die omstrede XL-pypleiding, wat groot hoeveelhede olie van Kanada na Amerika sou bring, summier geskrap.

Hy het in sy inhuldigingstoespraak gesê Amerika moet optree “teen ’n klimaat in krisis” en het onmiddellik ’n tydelike verbod geplaas op olie-en gasontginning in die Arktiese wildernis.

Hy het gesê omgewingsimpakstudies in dié gebied moet van voor af gedoen word.

Biden het vroeër gewaarsku klimaatsverandering hou die grootste bedreiging vir die sosiale en ekonomiese welstand van Amerika in, het The Guardian berig.

Pres. Joe Biden Foto: AP

“Die land is verlede jaar erg getref deur die grootste wegholbrande in die geskiedenis, orkane en hittegolwe.”

Volgens Biden se bevele is Amerika opnuut verbind tot wetenskaplike bevindings oor klimaatsverandering en sal voorstelle toepas oor hoe om dié krisis te stuit.

Biden het aan al sy staatsdepartemente en agentskappe opdrag gegee om alle wetgewing wat van 2017 tot 20 Januarie vanjaar deur die vorige regering geneem is en wat strydig is met die stryd teen klimaatsverandering, vanjaar nog te verander.

Hy het ook ’n werkgroep aangestel om die maatskaplike koste van die koolstof, metaan en swaeloksied wat Amerika vrystel, te bepaal en in geldwaarde te bereken omdat hy meen dié fossielbrandstowwe benadeel landbou­produksie en menslike gesondheid, veroorsaak vloede en vernietig ekostelsels.

Amerika moet verstaan hy was vir vier jaar nie deel van die gemeenskap nie en het oral waar hy kon, struikelblokke in die pad gegooi.

Karen Orenstein, klimaatdirekteur van Earthlife US, het in ’n verklaring gesê dit sal vir Amerika maklik wees om weer by die Parys-ooreenkoms aan te sluit. Die Biden-administrasie moet nou ’n behoorlike program saamstel om sy koolstofvoetspoor drasties te verklein.

Amerika moet sy deel doen om die verandering in globale temperatuur op minder as 1,5 °C te hou en om geld beskikbaar stel om ontwikkelende lande te help om by veranderende klimaatsomstandighede aan te pas.

Biden moet die klimaatkrisis internasionaal beveg met dieselfde beloftes wat hy aan Amerika gemaak het, het sy gesê.

David Waskow, direkteur van die World Resources Institute, het aan Bloomberggesê Amerika behoort nou met “nederigheid” na die internasionale klimaatgemeenskap terug te keer.

“Amerika moet verstaan hy was vir vier jaar nie deel van die gemeenskap nie en het oral waar hy kon, struikelblokke in die pad gegooi.”

António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, het Amerika se terugkeer na die UNFCCC en Parys-klimaatverdrag verwelkom.

Hy het gesê met Amerika weer aan boord het die wêreld nou ’n “ware geleentheid” om ’n klimaatkatastrofe te verhoed.

Meer oor:  Joe Biden  |  Amerika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.