Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Biden bekyk skade in Texas

Pres. Joe Biden van die VSA het Vrydag in Texas aangekom om na die skade te kyk wat veroorsaak is deur sterk winterstorms en intense koue.

Tientalle mense is dood, onder wie verskeie wat glo weens die koue in hul huise verkluim het. Texas was vir etlike dae sonder krag- en watertoevoer nadat infrastruktuur ineengestort het.

NPR berig Biden het kort ná sy aankoms in Houston met goew. Greg Abbott van Texas gepraat. Biden sal ook die rampbestuursentrum in die Harris-distrik besoek voordat hy en sy vrou, Jill, die voedselbank sal aandoen.

Biden se besoek Texas volg ’n week nadat hy dié deelstaat tot ’n rampgebied verklaar het. Hy het verlede week gesê hy wil die situasie eerstehands onder oë kry.

Pres. Biden en sy vrou, Jill, land Vrydag in Houston, Texas om die skade weens gure weer in die Amerikaanse deelstaat te bekyk. Foto: Getty Images

Hewige storms in Texas die afgelope twee weke het die vraag na elektrisiteit laat toeneem, wat gelei het tot verskeie onderbrekings en uiteindelik die ineenstorting van die kragnetwerk. Pypleidings het ook weens die koue gebreek en inwoners moes water eers kook voordat hulle dit kon gebruik.

Die kragtoevoer na huise en ondernemings in Texas is geleidelik herstel. Tans is net ongeveer 13 000 huishoudings sonder elektrisiteit, in vergelyking met die miljoene wat die afgelope paar dae daarsonder moes klaarkom.

“Die president beskou die krisis en die miljoene mense wat daardeur geraak is nie as ’n Demokratiese of Republikeinse kwessie nie,” het Jen Psaki, die Withuis se mediasekretaris, voor Biden se besoek aan Associated Press gesê.

Volgens Psaki besoek Biden nie Texas om inwoners uit te trap oor ’n gebrek aan voorbereiding vir winterstorms nie, maar “om verligting te bring”.

Biden wou die reis na Texas aanvanklik verlede week onderneem, maar het dit nie gedoen nie omdat hy nie met sy besoek die aandag onnodig van die herstelproses wou aftrek nie.

Toevallig was Houston ook die bestemming van Donald Trump se eerste presidensiële besoek aan ’n rampgebied in 2017 nadat orkaan Harvey in Augustus daardie jaar tot grootskaalse oorstromings gelei het.

Trump, wat nie bekend is vir sy empatie nie, het tydens sy besoek nie enige slagoffers ontmoet nie. Hy het vier dae later na die Withuis teruggekeer en mense wat na ’n skuiling moes verhuis bloot aangemoedig om “ ’n goeie tyd te hê”.

Meer oor:  Joe Biden  |  Texas  |  Amerika  |  Storms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.