Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Biden en Poetin: Ontmoeting was 'opbouend'

Die eerste amptelike spitsberaad tussen pres. Joe Biden van die VSA en pres. Wladimir Poetin van Rusland het Woensdag vinniger en heelwat beter verloop as wat aanvanklik verwag is.

Ondanks sy reputasie dat hy mense op hom laat wag, was Poetin stiptelik en het die twee presidente buite die Villa la Grange op die meer van Genève tussen vlae van Rusland, Switserland en die VSA blad geskud voordat hulle na binne is.

Terwyl Poetin langs Biden gaan sit het, het hy gesê: “Meneer die president, ek wil jou bedank vir jou inisiatief om vandag te kan vergader. Baie kwessies het opgeduik tussen Rusland en die VSA en vereis samesprekings op die hoogste vlak. Ek hoop ons vergadering is produktief.”

In reaksie het Biden gesê dit is altyd beter om van aangesig tot aangesig te vergader. Die twee het mekaar in 2011 laas gesien toe Biden nog die Amerikaanse visepresident was. Hy het Poetin destyds aangeraai om nie nog ’n termyn as president na te jaag nie.

Vir die eerste deel van die vergadering was slegs Poetin, Biden, Antony Blinken en Sergei Lawrof, die twee lande se ministers van buitelandse sake, teenwoordig.

Presidente Wladimir Poetin en Joe Biden skud blad buite die Villa la Grange op die meer van Genève tussen vlae van Rusland, Switserland en die VSA. Foto: Reuters

Ná sowat ’n uur en ’n half het hulle verdaag vir ’n blaaskans voordat die vergadering hervat het met verskeie ander amptenare daarby.

Die tweede deel van die ontmoeting het net meer as ’n uur geduur. In geheel was die vergadering heelwat korter as wat aanvanklik voorspel is.

Ná die vergadering het ’n lid van Poetin se afvaardiging aan die Russiese nuusagentskap Interfax gesê dit was “heel suksesvol.” Buite die villa, onderweg na sy limousine, het Biden ook met sy duim in die lug beduie.

Wat as tekenend gesien kan word van die gespanne betrekkinge tussen die twee lande, is dat die presidente nie gedurende die vergadering saam geëet het nie. Elke president het ook sy eie nuuskonferensie gehou.

Poetin, wat die media eerste te woord gestaan het, het gesê die ontmoeting was opbouend en sonder vyandigheid. Volgens hom is daar ’n behoefte aan begrip by albei partye en het hulle onder meer handelsbetrekkinge, kernwapens, streekskonflikte, die Arktiese sirkel en kuberveiligheid bespreek.

Betrekkinge tussen die lande is al jare sleg, veral nadat Rusland die Krim in 2014 van Oekraïne geannekseer het. Die VSA het Poetin ook beskuldig dat hy ingemeng het in die presidentsverkiesing van 2016 wat tot Donald Trump se presidentskap gelei het. Moskou ontken dit.

Sake het in Maart versleg toe Biden gesê het hy meen Poetin is ’n “moordenaar”. Dit het daartoe gelei dat Rusland sy ambassadeur in Washington, Anatoli Antonof, herroep het. In April het Amerika ook sy ambassadeur in Rusland herroep. Antonof het die beraad bygewoon en die presidente het ooreengekom om die twee ambassadeurs na mekaar se onderskeie hoofstede terug te stuur.

Ofskoon niemand verwag dat groot deurbrake tydens die vergadering gemaak sou word nie, het albei presidente vooraf die hoop uitgespreek dat dit tot ’n stabieler en meer voorspelbare verhouding tussen die twee lande sou lei.

Meer oor:  Joe Biden  |  Wladimir Poetin  |  Beraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.