Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Biden-kamp hoopvol ná sege in Maine

Hoewel die uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing teen Woensdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) nog wipplank gery het, het ondersteuners van Joe Biden nuwe moed geskep nadat hul kandidaat in die deelstaat Maine koning gekraai het en ook in vier van die ses deurslaggewende swaaistate voorloop.

Biden en pres. Donald Trump het in mekaar se nekke geblaas sedert daar met die tel van die stemme begin is en kenners is versigtig om te voorspel wie die verkiesing gaan wen – veral omdat al die stemme nog nie klaar getel is nie en dit in sommige gevalle ook nie gou gaan gebeur nie.

'Miljoene stemme' moet nog getel word

Daar sal Donderdag duideliker aanduidings in van die deelstate wees, hoewel die finale uitslae in Michigan eers Vrydag verwag word. “Miljoene stemme” moet byvoorbeeld ook nog in Pennsilvanië getel word.

Boonop is albei kandidate gereed om met regstappe te begin wat tot verdere onsekerheid kan lei. Die hertel van stemme in Wisconsin, waar Biden se voorsprong slegs sowat 20 000 is, is ’n besliste moontlikheid nadat die Trump-kamp aangedui het hy sal daarvoor vra.

Trump het reeds geskimp dat stembedrog gepleeg is en hy het selfs so ver gegaan deur te sê dat die Demokrate die verkiesing wil steel, stellings waarvoor hy onder erge kritiek deurgeloop het.

Volgens CNN se konserwatiewe beraming het Biden ná die sege in Maine 227 stemme in die kieskollege teenoor Trump se 213 gehad. Die kandidaat wat 270 van dié stemme kry, wen die verkiesing.

Pres. Donald Trump op die mediakonferensie in die Withuis waar hy Woensdag sy omstrede uitsprake gemaak het Foto: Reuters
Dit gebeur omdat meningspeilings dikwels nie die gevoel van baie kiesers op voetsoolvlak weerspieël nie,” sê Neethling. “Voorspellings in die hoofstroommedia neem dikwels ook nie die konserwatiewe aard van Amerikaanse kiesers in ag nie.

Biden loop voor in Michigan wat 16 kieskollege-stemme het, Wisconsin (10), Nevada (6) en Arizona (11). Trump loop voor in Pennsilvanië (20) en Georgia (16).

Die Demokrate was aanvanklik bra moedeloos nadat Trump bo verwagting goed gevaar het in Florida en ook in Texas koning gekraai het.

Dié stemme neem tyd 

Die tel van vooraf- en posstemme neem tyd en sake het voorlopig in die Demokrate se guns geswaai namate dit getel is, sê Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die sakeskool van die Noordwes-Universiteit.

Venter en ander plaaslike kenners was glad nie verbaas dat Trump bo verwagting goed gevaar het nadat sommige peilings op ’n gerieflike voorsprong vir Biden gedui het nie.

Volgens Venter en prof. Theo Neethling, ’n kenner van internasionale politiek aan die Universiteit van die Vrystaat, het meningspeilings weer soos in 2016 nie die kol getref nie.

Joe Biden, Demokratiese kandidaat in vanjaar se Amerikaanse presidentsverkiesing, by die New Castle-lughawe in Delaware. Foto: AP

“Dit gebeur omdat meningspeilings dikwels nie die gevoel van baie kiesers op voetsoolvlak weerspieël nie,” sê Neethling. “Voorspellings in die hoofstroommedia neem dikwels ook nie die konserwatiewe aard van Amerikaanse kiesers in ag nie.”

Gert Grobler, voormalige diplomaat en kenner van internasionale politiek, stem saam.

“Baie van hulle glo maar in tradisionele Republikeinse waardes en is gekant teen aborsie en wil nie beperkings op die besit van vuurwapens hê nie.”

Neethling sê vir hulle tel buitelandse beleid en kritiek in intellektuele kringe teen Trump nie so baie nie.

“Die ekonomie van Amerika is vir hulle ook baie belangrik.”

Trump het verras met die steun wat hy onder Latyns-Amerikaanse kiesers in Florida gekry het. Een rede daarvoor is die baie suksesvolle veldtog van die Trump-kamp onder kiesers van Kubaanse en Venezolaanse afkoms wat gesê het ’n stem vir Biden is een vir sosialisme, sê dr. Leopold Scholtz, onafhanklike politieke ontleder en historikus.

Baie van hulle glo maar in tradisionele Republikeinse waardes en is gekant teen aborsie en wil nie beperkings op die besit van vuurwapens hê nie.

Venter meen Latyns-Amerikaanse kiesers hou ook van Trump se sterk standpunte teen immigrasie omdat dit hulle teen mededinging van nuwe immigrante beskerm.

Volgens Neethling en Grobler het Trump ook gebaat by die geweld wat op die Black Lives Matter-veldtog gevolg het.

Anthony Scaramucci, Trump se voormalige direkteur van kommunikasie in die Withuis, wat voorspel het dat Biden sy oudwerkgewer in die verkiesing gaan “vernietig”, het aan Sky News gesê die president se aggressiewe verkiesingsveldtog in die doodsnikke het hom baie gehelp.

Volgens hom is mense ook skrikkerig om vir die Demokrate te stem omdat dié party se geflankeerdery met die “radikale linkervleuel” in die Amerikaanse politiek hulle afsit.

Trump sou nog beter gevaar het as dit nie vir die koronaviruspandemie was nie, sê Grobler. Dit het die ekonomie verswak en Biden ’n baie handige stok gegee om hom mee te slaan.

Venter sê die pandemie het die stemtempo gelig en dié “Covid-verkiesing” was een van die merkwaardigste nóg omdat mense in sulke groot getalle gaan stem het en soveel vooraf-stemme uitgebring het.

John Bolton, Trump se voormalige veiligheidsraadgewer, het aan Sky News gesê dat so baie mense vir Trump gestem het, wys net hoe gefrustreerd hulle met die politieke stelsel is.

Hy meen egter te oordeel na Trump se uitsprake wat die legitimiteit van die verkiesing onder verdenking plaas, is hy nie geskik om die president van Amerika te wees nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.