Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Biden-kamp ‘oorweeg regstappe’ teen federale owerheid

Joe Biden, aangewese president van Amerika, se oorgangspan oorweeg regstappe teen die land se algemene administratiewe owerheid (GSA), het ’n bron in die Biden-kamp Maandag gesê.

Die GSA is die federale owerheid wat die oorgang tussen administrasies moet bewerkstellig. Dit kan begin sodra die GSA die uitslag van die verkiesing bevestig het.

Die GSA bevestig normaalweg die wenner wanneer die uitslag seker is, sodat die oordrag van mag kan begin. Die GSA het dit egter nog nie gedoen nie, ten spyte daarvan dat Amerikaanse televisie- en nuusnetwerke reeds Saterdag verklaar het dat Biden gewen het nadat hy genoeg stemme in die kieskollege op hom verenig het.

Die wet stippel nie duidelik uit wanneer die GSA met die oorgangsproses moet begin nie, maar Biden-amptenare sê sy oorwinning is onteenseglik en daar is geen regverdiging vir ’n vertraging nie, selfs al weier pres. Donald Trump om te erken hy het verloor.

“Daar is nog nie bevestiging (van die wenner) nie. Die GSA en sy administrateur sal aanhou om die wet te gehoorsaam en aan alle vereistes onder die wet voldoen,” het Pamela Pennington, GSA-woordvoerder, Saterdag in ’n verklaring gesê.

Emily Murphy, GSA-administrateur wat in 2017 deur Trump aangewys is, is volgens ’n bron na aan haar uiters professioneel en sal die nodige tyd neem om ’n versigtige besluit te neem.

Trump het verlede week meer as een keer sonder enige bewyse beweer dat hy die verkiesing gewen het, dat daar grootskaalse bedrog met posstemme was en dat die Demokrate die verkiesing gesteel het.

Pres. Donald Trump van Amerika weier om te erken dat hy die verkiesing verloor het. Foto: Reuters

Verkiesingsbeamptes sê egter daar is geen bewyse dat bedrog wel gepleeg is nie.

’n Bron in die Biden-kamp sê dit is tyd dat die GSA ’n aankondiging doen.

“Regstappe is baie beslis ’n moontlikheid, maar daar is ook ander opsies wat ons oorweeg,” het die bron op voorwaarde van anonimiteit gesê. Die persoon wou egter nie oor die “ander opsies” uitwei nie.

Joe Biden, aangewese president van Amerika, se span oorweeg regstappe ten einde die oorgangsproses te laat begin. Foto: Reuters

Die vertraging beteken dat die Biden-span nie toegang kan kry tot miljoene dollars se federale finansiering nie en nie met die intelligensie-agentskappe en ander staatsdepartemente kan vergader nie.

Biden se span het ook nie toegang tot die departement van buitelandse sake nie, wat oproepe tussen Biden en ander wêreldleiers moet fasiliteer, sê die bron.

’n Senior amptenaar van die Trump-administrasie sê in 2000 het die GSA vyf weke gewag voordat hy oudpres. George W. Bush as wenner oor die Demokraat Al Gore aangewys het. Dié uitslag het berus op ’n paar honderd stemme in die deelstaat Florida. – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.