Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Biden keer verbod op transgender-lede in weermag om

Joe Biden, president van Amerika, het Maandag ’n uitvoerende bevel onderteken wat ’n omstrede verbod deur sy voorganger op transgender-individue wat in die Amerikaanse weermag dien, omkeer.

“Dit is eenvoudig: Amerika is veiliger as almal wat gekwalifiseer is om dit te dien dit openlik en met trots kan doen,” het Biden ná die ondertekening in die Oval Office op Twitter gesê.

Oudpres. Barack Obama het in 2016 transgender-persone toegelaat om openlik te dien, ’n stap wat later deur Donald Trump nietig verklaar is toe hy aan die bewind gekom he.t Trump het met die aankondiging van die verbod in 2017 op Twitter gesê die weermag moet fokus op ’n “beslissende en oorweldigende oorwinning” sonder om belas te wees deur die “geweldige mediese koste en ontwrigting” van transgender-personeel.

Daar is November verlede jaar in ’n verslag deur ’n groep wat LGBTQI+-regte voorstaan gevind dat die verbod op transgender-mense die militêre gereedheid van Amerika benadeel.

Lloyd Austin, die Amerikaanse minister van verdediging, het gesê hy steun die stap en sal onmiddellik optree om te verseker dat transgender-mense in aanmerking kom om in die weermag te dien. Volgens die departement van verdediging is daar tans ongeveer 1,3 miljoen aktiewe personeellede wat in die Amerikaanse weermag dien.

Pres. Joe Biden het Maandag ’n uitvoerende bevel onderteken wat ’n omstrede verbod op transgender-individue wat in die Amerikaanse weermag dien, omkeer.Foto: Reuters

Daar is geen amptelike syfers oor die aantal transgender- lede nie, maar Rand Corp, ’n Amerikaanse navorsingsinstituut vir beleid, het in 2016 die aantal lede in die weermag wat transgender is op ongeveer 2 450 geskat.

“Die grootste weermag ter wêreld sal weer waarde gee aan bereidwilligheid oor vooroordele en kwalifikasies oor diskriminasie,” het Alphonso David, president van die Human Rights Campaign, die grootste lesbiese, gay-, biseksuele en transgender-burgerregte-organisasie in die Verenigde State, in reaksie op die stap gesê.

Nic Talbott, ’n transgender-man wat weens Trump se verbod uit die weermag se reserwemag moes tree, het Maandag die skuif deur Biden verwelkom.

“Dit is so ’n groot verligting, dit is soos ’n groot gewig wat van my skouers af gelig is,” het Talbott gesê.

“Ek weet dat daar duisende ander mense net soos ek is wat die dae afgetel en gewag het op die dag dat hulle met hul loopbane en hul lewe sou kon aangaan,” het hy gesê. - Reuters


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.