Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Biden maak ommekeer, vra skietstilstand in Gasa

Pres. Joe Biden van Amerika het Maandag in ’n oproep aan Benjamin Netanyahu, Israel se premier, benadruk dat hy ’n skietstilstand tussen Israel en ekstremiste van Hamas in Palestina ondersteun.

Dit volg nadat die Withuis hom aanvanklik Maandag van lede van die Demokratiese Party gedistansieer het wat ’n skietstilstand gevra het.

Geweld in die Gasa-strook duur reeds meer as ’n week voort. Dit is die ergste konflik tussen die twee kante sedert 2014.

Volgens die weermag in Israel het Hamas en ander Palestynse groepe reeds altesaam 3 350 vuurpyle op Israel afgevuur, waarvan 200 Maandag afgevuur is.

In die lugaanvalle waarmee Israel sedertdien geantwoord het, is minstens 130 militante dood, hoewel owerhede in Gasa sê minstens 212 mense, insluitend 61 kinders en 36 vroue, het in die aanvalle omgekom.

In Israel is tien mense, insluitend twee kinders, dood.

Dit blyk egter dat Netanyahu geen planne vir ’n skietstilstand het nie.

Hy het Maandag gesê lugaanvalle op terroristeteikens sal voortduur om die veiligheid van Israeli’s te verseker.

Dít het Hamas aangemoedig om nog vuurpyle af te vuur.

’n Woordvoerder sê Israel teiken huise en woonstelle en as dit voortduur, sal hulle Tel Aviv teiken.

Die weermag in Israel sê teen middernag is vuurpyle vanuit Libanon afgevuur, maar die vuurpyle het nie die grens oorgesteek nie. Israel het daarna teruggevuur na “teikens” in Libanon.

Die Verenigde Nasies (VN) se tussentydse magte in Libanon (Unifil) sê hulle sal hul patrollies opskerp en behou kontak met albei partye om stabiliteit te bewerkstellig.

’n Vuurbol kan Dinsdag in Gasa gesien word nadat Israel weer ’n lugaanval uitgevoer het. Foto: Reuters

Antony Blinken, Amerika se minister van buitelandse sake, het ’n beroep op albei partye gedoen om burgers te beskerm.

Hy het benadruk dat Israel die reg het om homself te verdedig, maar sê hy het nog geen bewyse gesien dat die mediagebou wat Israel hierdie naweek vernietig het, aan Hamas behoort het nie.

Die Amerikaanse nuusagentskap The Associated Press is ook in dié gebou gehuisves.

Hamas het egter ontken dat hy kantore in die gebou het en sê dit is valse aantygings om misdaad wat gewone burgers teiken, te probeer regverdig.

Egipte en die VN het intussen diplomatieke pogings opgeskerp, terwyl die VN se algemene vergadering die geweld Donderdag sal bespreek.

Die geweld spruit uit spanning weens Palestynse families wat gedwing word om hul huise in Oos-Jerusalem te ontruim en botsings tussen die polisie en betogers by die Al-Aqsa-moskee in Jerusalem. – Reuters

Meer oor:  Palestina  |  Israel  |  Skietstilstand  |  Pres. Joe Biden  |  Gasa-Konflik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.