Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Biden vaar beter as Trump, toon peiling

Pres. Joe Biden van Amerika vaar beter in sy eerste byna 100 dae in die Withuis as sy voorganger, oudpres. Donald Trump.

’n Reuters-Ipsos-peiling, waaraan 4 423 volwassenes tussen 12 en 16 April deelgeneem het, dui daarop dat meer as die helfte (55%) van die respondente Biden se optrede as president goedkeur, terwyl 40% dit afkeur en die res onseker is.

Meer as 40% voel dat die land nou in die regte rigting bestuur word, teenoor enige ander tyd oor die afgelope dekade, het die peiling aangedui.

Biden het veral hoë punte (65%) gekry vir sy hantering van die koronaviruspandemie. In Januarie het slegs 38% met Trump se hantering van dié gesondheidskrisis saamgestem.

Pres. Joe Biden van Amerika. Foto: Reuters

Biden trek egter voordeel uit omstandighede wat buite sy beheer was, aangesien hy maande voor die presidentsverkiesing gehad het om sy strategie vir die hantering van die pandemie voor te berei. Terselfdertyd was verskeie entstowwe teen die koronavirus ook in gebruik toe hy op 20 Januarie as president ingehuldig is.

Biden se swakste punt is by immigrasie, terwyl sy regering worstel met die toestroming van migrante wat by die grensposte tussen Amerika en Mexiko aankom.

Slegs 42% van die respondente stem saam met Biden se grensbeleid, terwyl 49% dit afkeur.

Sowat 53% het Biden ondersteun in sy hantering van die ekonomie en die effek wat dit op werkgeleenthede in Amerika het.

In albei gevalle is dit ’n effense styging teenoor Trump se punte in sy laaste maand in die presidentskantoor.

Biden het ook ’n voordeel by die ekonomie-afdeling aangesien sy pogings met dié van 2020 vergelyk word toe die pandemie tot die besnoeiing van miljoene werkgeleenthede gelei het.

Intussen sê Julian Zelizer, ’n politieke geskiedkundige aan die Princeton-Universiteit, Biden se steun onder Amerikaners weerspieël dat daar steeds steun is vir sy ambisieuse agenda, wat ’n ekonomiese stimuleringspakket van $1,9 miljard insluit.

Biden is besig om druk uit te oefen vir ’n infrastruktuurplan van $2 miljard, wat deur baie Republikeine teengestaan word, terwyl ook verwag word dat hy ’n belastingverhoging op die rykes sal voorstel om geld vir kindersorg en ander programme vir Amerikaanse werkers bymekaar te maak.

Hoewel slegs 20% van die Republikeine Biden ondersteun kon Biden dié teenkanting tot dusver teenwerk met byna eenparige goedkeuring onder die Demokrate en sterk steun onder die onafhanklikes. – Reuters


Meer oor:  Joe Biden  |  Donald Trump  |  Peiling  |  Withuis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.