Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Biden veg vir eenheid ná Trump se ‘uncivil war’

Pres. Joe Biden gaan hart en siel baklei om Amerika te verenig ná die tydperk van ongekende verdeeldheid en ’n “uncivil war” wat onder oudpres. Donald Trump gewoed het.

Biden, wat op 78 die oudste Amerikaanse president nóg is, het ’n kragtige pleidooi vir eenheid gelewer en verklaar dat hy ’n president vir alle Amerikaners gaan wees.

Sonder om Trump se naam te noem, het die 46ste president van die Verenigde State van Amerika die gebeure twee weke gelede, toe ondersteuners van Trump die kongresgebou bestorm het, skerp veroordeel.

Hy het begin deur te verklaar dit is ’n dag vir demokrasie. “Die wil van die mense het gewen. Demokrasie het gewen,” het hy gesê met verwysing na Trump wat aangevoer het die verkiesing is “gesteel”.

“Sonder eenheid is daar nie vrede nie, slegs bitterheid en woede,” het Biden gesê oor die verdeeldheid wat in die verkiesing aangevuur is en tot die bestorming van die kongresgebou gelei het.

“Daar is geen vooruitgang nie, slegs uitmergelende verontwaardiging. Daar is geen nasie nie, net ’n staat van chaos. Dit is ons geskiedkundige oomblik van ’n krisis en uitdagings, en eenheid is die pad vorentoe. Luister na mekaar. Sien mekaar raak. En toon respek vir mekaar,” het hy gesê.

Kamala Harris lê Woensdag die ampseed as visepresident af terwyl haar man, Doug Emhoff, ’n Bybel vashou met die inhuldiging van Joe Biden as Amerika se 46ste president. Foto: Reuters

Biden het die aard van “totale oorlog” wat in die proses van beleidmaking posgevat het en die “manipulering van feite” veroordeel.

“My mede-Amerikaners, ons moet anders begin optree, Amerika moet beter wees as dit. En ek glo Amerika is baie beter as dit.”

Hy het Martin Luther King jr. se beroemde toespraak “I Have a Dream” op dieselfde heilige terrein in herinnering geroep en ook na die vroueregtebeweging se opmars na dieselfde kongresgebou in 1913 verwys toe hy Kamala Harris, sy nuwe visepresident, en eerste swart persoon en eerste vrou in die pos, geloof het.

“Moenie vir my sê dinge kan nie verander nie,” het hy met verwysing na Harris gesê. Dit is duidelik dat daar ’n hegte band tussen hulle is, ook tussen hom en sy vriend oudpres. Barack Obama, wat hom met die beroemde vuispomp gegroet het.

Biden, met sy vrou, Jill, aan sy sy, het Harris met ’n dubbele vuispomp gelukgewens nadat sy die eed van getrouheid afgelê het.

Die simboliek van ’n wit, manlike, Katolieke president wat hande vat met ’n swart, Joodse vrou met Oosterse bande, het wyd in Amerika getref. Biden het ure voor sy beëdiging gesê sy span in die Withuis gaan dadelik begin werk.

“Ek beloof om kragtige stappe te doen en onmiddellike verligting vir Amerikaanse gesinne te bring,” het hy op die presidensiële Twitter-rekening geskryf, wat hy van Trump oorgeneem het. Trump is afgeskop van Twitter.

Visepres. Kamala Harris en haar man, Doug Emhoff (links), en oudvisepres. Mike Pence en sy vrou, Karen, ná die inhuldigingseremonie aan die oostekant van die kongresgebou in Washington DC. Foto: AP

Van sy eerste stappe sal wees om uitvoerende bevele te onderteken om Trump se nalatenskap, wat Amerika ’n muishond in die wêreld gemaak het, tot niet te maak. Dit raak veral die stryd teen Covid-19 en die klimaatkrisis. Biden gaan ’n bevel teken dat Amerika weer deel is van die Parys-klimaatsverdrag nadat Trump die land onttrek het.

Een van sy stappe op dag een is om ’n tydelike verbod te plaas op die ontginning van olie en gas in die Arktiese wildernis.

Hy mik vir 100 miljoen inentings teen die koronavirus in 100 dae. Meer as 400 000 Amerikaners is reeds aan die virussiekte dood.

Biden gaan die dra van maskers en veilige afstande in regeringsgeboue verpligtend maak. Hy daag ook alle Amerikaners uit om ’n masker vir die eerste 100 dae van sy bewind te dra.

Die National Mall is ná die opstand op 6 Januarie deur duisende Trump-aanhangers in ’n fort omskep. Minstens 12 lede van die nasionale wag wat pro-Trump- en regse bande het, is verwyder. Met die besoekers aan Washington DC wat beperk is, is 200 000 vlae op die grasperk tussen die kongresgebou en die Lincoln-monument geplant en spesiaal verlig.

Trump en sy vrou, Melania, het die Withuis om 15:15 Suid-Afrikaanse tyd in Marine One, die amptelike presidensiële helikopter, verlaat. Hy het ’n saamtrek van sy volgelinge by die Andrews-lugmagbasis in Maryland buite die hoofstad toegespreek voordat hulle vir goed met Air Force One na sy tuisstaat, Florida, vertrek het. Hy het nooit Biden se naam genoem nie.

Hy het wel sy eie termyn “ ’n wonderwerk” genoem, hoewel politieke ontleders soos Rachel Maddow van MSNBC hom “die swakste president in Amerika se geskiedenis” genoem het. Thomas Friedman, ’n rubriekskrywer vir The New York Times, het geskryf “die aaklige Trump-eksperiment is verby”.

Op hierdie argieffoto van Sondag 20 Januarie 2013 plaas visepres. Joe Biden (links) sy hand op die Biden-Familiebybel wat deur sy vrou, Jill, vasgehou word. Dit was met die aflegging van sy ampseed voor regter Sonia Sotomayor (regs) ten tyde van ’n amptelike seremonie by die Naval Observatory in Washington. Foto: AP
Joe Biden lê Woensdag voor hoofregter John Roberts sy ampseed as 46ste president van Amerika af terwyl sy vrou, Jill, die Bybel vashou. Die Bidens se volwasse kinders, Hunter en Ashley, staan regs. Foto: AP
Die ‘veld van vlae’ voor die Amerikaanse kongresgebou voor die inhuldigingseremonie Woensdag. Foto: Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.