Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Bloedneus vir die ‘looney left’

Die Britse Arbeidersparty staan voor hul grootste krisis in dekades nadat hulle Donderdag hul slegste verkiesing in 84 jaar beleef het.

Jeremy Corbyn. Dit is nou sy beurt om die sinkende skip te verlaat. Foto’s: Getty Images

Jeremy Corbyn se verkiesingsmanifes, ’n lang lys van haas onhaalbare beloftes soos gratis internettoegang vir almal in die land, het Britse kiesers selfs minder beïndruk as sy voorganger Michael Foot se “langste selfmoordbrief in die geskiedenis” – soos Foot se verkiesingsmanifes van 1983 gedoop is.

Die Tory-leier, Boris Johnson, se waagstuk van ’n blitsverkiesing in ’n poging om die jare lange Brexit-dooiepunt te breek, was ’n reusesukses. Die Konserwatiewes het nou ’n gerieflike meerderheid van 80 in die Britse Laerhuis nadat hulle in die 2017-verkiesing (onder Theresa May) hul meerderheid in die Laerhuis verloor het en op die Ierse Unioniste moes staatmaak om aan die bewind te bly.

Sy meerderheid beteken dat daar nou bitter min in die pad staan vir Johnson om sy verkiesingslagspreuk gestand te doen: “Get Brexit Done”.

Tory-leier Boris Johnson se verkiesing ’n reusesukses; Jeremy Corbyn se kop geëis.

Sy vernaamste politieke teenstander, die Arbeiders se Corbyn, se politieke loopbaan is egter aan flarde.

Corbyn, in die Tony Blair-jare beskryf as lid van die looney left, ’n groep in die party wat nasionalisasie sien as die oplossing vir bykans al die land se probleme, het aan die bewind gekom ná die Arbeiders onder Ed Miliband se demoraliserende verkiesingsnederlaag teen die Konserwatiewe Party van David Cameron in 2010. Nou is dit Corbyn se beurt om die sinkende skip te verlaat.

Sy radikale skuif na links, moontlik gemaak deur ’n groot groep uitgesproke sosialiste in die party, het die Arbeiders vir alle praktiese doeleindes onverkiesbaar gemaak, sê sy kritici.

Boris Johnson se blitsverkiesing was ’n reusesukses.

Corbyn het teen die naweek egter steeds vasgeklou aan die leierspos. Vrydagoggend, ná ’n nag waarin die party 18 setels verloor het wat hulle al sedert die Tweede Wêreldoorlog hou, het Corbyn aangekondig dat hy as leier gaan uittree – maar eers ná “ ’n tyd van nadenke”.

Sy vyande wil van nadenke niks weet nie.

“Ek het nagedink. Jy het misluk. Staan asseblief opsy,” het Margaret Hodge, een van die party se mees senior agterbankers en ’n uitgesproke kritikus van sy leierskap, getwiet.

‘Gaan terug na die studente-politiek.’

Corbyn self is skynbaar blind vir sy aandeel in die debakel en het die feit dat die Brexit-debat die “verkiesingsnarratief oorgeneem het” vir die fiasko geblameer. Hy sê Brexit het beteken dat sleutelkwessies soos gesondheid nooit gedebatteer is nie.

Dis ironies, aangesien baie senior Arbeiders Corbyn medeverantwoordelik hou vir die Brexit-debakel. Hulle blameer Corbyn, histories baie skepties oor die Europese Unie, se halfhartige ondersteuning van die Remain-stem in die 2016-referendum vir die pro-Brexit-uitslag.

Terwyl Johnson se standpunt oor Brexit glashelder was, was Corbyn s’n so ondeurdringbaar soos die Londense mis op ’n koue wintersoggend. Corbyn het beloof dat hy enige toekomstige ooreenkoms met die EU eers deur ’n algemene referendum sal laat “goedkeur”, ’n referendum waarin hy “neutraal sal bly”.

Donderdag se verkiesingsuitslag wys dat dié standpunt (asook as die Liberaal Demokrate se belofte van ’n tweede Brexit-referendum) nie vir die meerderheid Britte aanvaarbaar was nie. Selfs kiesers wat hulself beskou as geswore remainers het blykbaar genoeg gehad van twee jaar se gekibbel en gee nie meer om as die land die EU verlaat nie – solank dit net gou gebeur.

Talle senior Arbeiders het die afgelope paar dae in onderhoude stoom afgeblaas oor kiesers se reaksie wanneer hul aan deure geklop het om stemme te werf.

“Almal het geweet dat hy (Corbyn) nie die werkersklas uit ’n papiersak kan lei nie,” het Alan Johnson, ’n voormalige minister van binnelandse sake in die kabinet van Gordon Brown, aan ITV gesê. Johnson het onder meer te velde getrek teen die ultralinkse drukgroep Momentum, ’n “party in ’n party”, wat gehelp het om Corbyn as Arbeiderleier verkies te kry.

“Ek wil hulle (Momentum) uit die party hê. Gaan terug na die studentepolitiek. Ek is regtig kwaad dat ons (so lank) volhard het met Corbyn (as leier).”

Die wyse waarop die Arbeiders as party verander het, word goed opgesom deur The Guardian, wat hierdie week skryf: “ . . . as ’n mens in 1983 op soek was na ’n Arbeider-setel moes jy net gaan kyk het na verarmde stedelike buurte of vergete dorpe met ’n vernietigde ekonomie.

In 2019 sal jy Arbeider-setels kry in pro-Europese, hoogs opgevoede enklaves rondom universiteite.”

Die Tories se oorwinning tel onder die mees skouspelagtige Britse verkiesingsoorwinnings van die afgelope 100 jaar.

Nie net het hulle ’n oortuigende parlementêre meerderheid wat die getal setels wat gewen is betref nie, maar hul aandeel in die totale getal uitgebragte stemme – 43,6% – is selfs hoër as die 43,4% wat die Arbeiders in 1997 onder Tony Blair gekry het. Dit is steeds effe minder as Margaret Thatcher se 43,9% in 1979 of Ted Heath se 46,4% in 1970.

Die 55-jarige Johnson het ná sy oorwinning beloof om die diepe verdeeldheid oor Brexit te oorbrug deur die kwessie uit die pad te kry en sy aandag toe te spits op ander prioriteite, soos om skole en hospitale te verbeter, belasting te verminder en die ekonomie te laat groei.

Alhoewel Johnson baie meer dinamies en charismaties as sy voorganger, Theresa May, is, het hy geen kanse in die verkiesing gewaag nie.

Kort nadat die kiesstryd in alle erns begin het, het hy Isaac Levido, ’n 35-jarige Australiese verkiesingstrateeg, gehuur as sy veldtogbestuurder.

Luidens berigte het Levido Tory-troepe aangespoor deur die popgroep Europe se 1980’s-treffer “The Final Countdown” tot vervelens toe in die Konserwatiewe hoofkwartier in Londen te speel.

In die laaste paar dae voor stemdag is die klankbaan vervang deur “One Day More” uit die musiekblyspel Les Miserables.

Sy strategie was om aan die veilige kant te bly, geen groot kanse te waag nie, om te fokus op die goeie gebruik van verkiesingsdata en aan te dring daarop dat partylede, insluitend die leier, nougeset by die verkiesingsboodskap bly.

Johnson, berug vir sy onvoorspelbare en onkonvensionele gedrag, het vir ’n verandering die voorskrifte streng nagekom.– Met bykomende verslaggewing deur Bloomberg.

Meer oor:  Boris Johnson  |  Jeremy Corbyn  |  Verkiesing  |  Arbeidersparty  |  Konserwatiewe Party  |  Tories  |  Brittanje  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.