Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Boris: G’n asse of maars nie, Brexit kom

Boris Johnson, leier van die triomfantlike Konserwatiewe Party (Tories), het belowe hy sal dag en nag werk om Britse kiesers tevrede te stel nadat hy die party tot ’n geskiedkundige oorwinning gelei het.

Met die uitslae van een kiesafdeling uitstaande vroeg Vrydagmiddag het die Tories reeds ’n wegholoorwinning van 76 setels in die laerhuis gehad. Dit is die party se grootste oorwinning sedert Margaret Thatcher ’n derde termyn in 1987 behaal het.

“Nou het ek ’n mandaat om Brittanje uit die Europese Unie (EU) te lei, geen asse, maars en miskiene nie,” het Johnson gesê.

Jeremy Corbyn, leier van die Arbeidersparty, wat baie van sy gevestigde kiesafdelings verloor het, het sy uittrede aangekondig, maar nie gesê wanneer dit sal wees nie. Die Liberaal-Demokrate se leier, Jo Swinson, wat verslaan is, het ook aangedui dat sy as leier gaan bedank.

Die stand van die uitslag (met een kiesafdeling – St. Ives in Cornwall – uitstaande) is 364 setels vir die Tories, 203 vir die Arbeiders, 48 vir die SNP (Skotse Nasionale Party), 11 vir die LibDems, agt vir die DUP (Demokratiese Unioniste-party), sewe vir Sinn Fein, vier vir Plaid Cymru, twee vir die SDLP (Sosiaal-Demokratiese en Werkersparty) en een elk vir die Groen- en die Alliansie-party.

Die Brexit-party wat vroeër vanjaar goed gevaar het in die verkiesing vir die Europese parlement, het geen setels gewen nie, berig die BBC.

Boris Johnson buite 10 Downing Street op pad na Buckingham-paleis, waar koningin Elizabeth hom sal vra om ’n regering saam te stel. Foto: Reuters

In sy oorwinningstoespraak het Johnson gesê Brittanje is aan die vooraand van ’n “nuwe daeraad”.

Hy het die lede van die Arbeidersparty wat in die verkiesing vir hom gestem het, bedank en gesê hy voel geëerd dat hulle hul vertroue in hom geplaas het.

“Die mense wil verandering hê. Hul stem is gehoor. Ons kan en sal hulle nie teleurstel nie. Ons sal die Brexit-struikelblokke in die parlement met ’n mokerhou uit die weg ruim en daarmee saam al die aaklige dreigemente oor ’n nuwe referendum.

“Hierdie uitslag is ’n onweerlegbare, onstuitbare, onbetwisbare besluit van die Britte dat hulle ’n Brexit wil hê.”

Johnson het ’n kans gewaag om ’n algemene verkiesing uit te roep en om dit hoofsaaklik om Brexit te veg. “Die strategie was om Brexit-ondersteuners te betrek – van alle kleure en veral Arbeiderslede wat vir Brexit gestem het,” het ’n bron in die party aan Reuters gesê.

“Die temas was mense versus parlement; laat ons Brexit gedoen kry; en ’n baie prettige Brexit vir almal. En dit het gewerk.”

In sy eerste week in die premierstoel nadat Theresa May bedank het, het Johnson ongekende steun uit sy eie party van ministers en lede verloor. Hy het 21 geskors wat teen sy Brexit-planne gestem het.

Johnson het ook in sy veldtog belowe om immigrasie hok te slaan en het gesê al die geld wat beskikbaar sal word sodra Brexit afgehandel is, sal in die Britse owerheidsdienste gepomp word, berig Reuters.

CNN het uitgewys dat Johnson wel ’n paar nuwe probleme het. Die Tories het teruggesak in Skotland, wat ’n tydbom is. Die partyleier, Nicola Sturgeon, het reeds gesê die uitslag gee haar ’n mandaat vir ’n tweede referendum oor die land se onafhanklikwording.

Skotland en Engeland lyk op die oomblik uit ’n politieke perspektief soos twee totaal verskillende lande, berig CNN.

In Noord-Ierland het die DUP, wat tradisioneel die Tories ondersteun, setels verloor, onder meer dié van die leier van die party in die parlement, Nigel Dodds.

Pres. Donald Trump het nie lank gevat om sy ingenomenheid met die uitslag op Twitter uit te basuin nie, berig die Financial Times.

“Geluk aan Boris Johnson met sy groot OORWINNING. Brittanje en Amerika is nou vry om ’n massiewe nuwe handelsooreenkoms ná Brexit te sluit. Hierdie ooreenkoms het die potensiaal om baie groter en winsgewender te wees as enige ooreenkoms wat met die EU gemaak sou kon word. Vier fees, Boris!”

In Brussel was daar verligting dat die besluiteloosheid rondom Brexit nou waarskynlik tot ’n einde sal kom.

“Frankryk vra al maande lank dat Brittanje duidelikheid gee. Dié duidelikheid is klaarblyklik nou hier,” het Amélie de Montchalin, Frankryk se minister vir Europa, gesê.




Meer oor:  Boris Johnson  |  Tories  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.