Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Boris ‘plane stupid’ om na G7-beraad te vlieg

Die Britse premier, Boris Johnson, het onder kritiek deurgeloop omdat hy na Cornwall – in die suidweste van die land, waar die G7-beraad plaasvind – gevlieg het in plaas daarvan om met die trein te reis.

Dit kom te midde van klimaatsverandering wat hoog op die agenda van die beraad sal wees. Die beraad vind van Vrydag tot Sondag plaas.

Sky News berig Johnson is gekritiseer nadat ’n foto van hom op sy Twitter-rekening geplaas is waar hy in Cornwall van ’n vliegtuig afklim.

boris johnson, britse premier
Boris Johnson, Britse premier. Foto: Reuters

Luke Pollard, Arbeidersparty-lid en skaduminister van omgewingsake, het die stap as “plane stupid” bestempel.

“Daar is geen treinspoor van Cornwall na Washington of Tokio nie, maar daar is een na Londen,” sê hy.

Cornwall is sowat 400 km van Londen.

Op ’n vraag oor waarom hy na die beraad gevlieg het, het Johnson geantwoord: “As jy my oor my gebruik van ’n vliegtuig aanval, wil ek vir jou, met respek, daarop wys dat Brittanje die leier in die ontwikkeling van volhoubare vliegtuigbrandstof is.”

Intussen maak talle groepe gereed om by die beraad oor onder meer klimaatsverandering te betoog.

Duisende polisiebeamptes van oor Brittanje heen word ingespan om veiligheid op te skerp. Die polisie het strate en kuspaadjies na Carbis Bay, die klein oord in Cornwall aan die suidweskus van die land waar die geleentheid plaasvind, gesluit en staalheinings en ander versperrings opgerig. ’n Volle 6 500 polisiebeamptes en personeel sal deel van die operasie wees, sê die polisie van Devon en Cornwall.

“Alles wat ons doen, sal in verhouding wees tot wat die situasie vereis en dit sal wettig wees,” sê Glen Mayhew, assistenthoofkonstabel, in beheer van polisiëring by die beraad.

Die Kill the Bill-protesgroep, een van sowat 20 aktivisteorganisasies wat by die Resist G7 Coalition (RG7) aangesluit het, maak beswaar teen die voorgestelde wetgewing wat daarop gemik is om bykomende magte aan die polisie te gee om betogings in bedwang te hou.

“Ons het nie ons regte bekom deur stil, beleefde betogings te hou nie. Ons regte is bekom deur luidkeels beswaar te maak en deur ontwrigtend en irriterend te wees,” hou dié groep vol.

Polisiebeamptes loop op 5 Junie verby Tregenna Castle voor die G7-beraad in Carbis Bay, Cornwall. Foto: Reuters

Die polisie sê hy ondersteun die reg op vreedsame betogings en het vier plekke aangewys waar betogers mag byeenkom. RG7 – wat ook klimaatsveranderingsgroepe, teenoorlogaktiviste en anargiste insluit – sê hulle sal dit boikot.

“RG7 praat of skakel nie met die polisie nie. Die polisie sal nie in enige van ons ruimtes welkom wees nie,” sê die groep op sy webwerf.

Extinction Rebellion, die globale omgewingsbeweging wat in 2019 tydens 11 dae se betogings verkeerschaos in Londen se middestad veroorsaak het, sê hulle verwag sowat 1 000 betogers vir die beraad by St. Ives, die dorp langs Carbis Bay.

Die polisie het aangedui hulle sal streng optree en sê volgehoue ontwrigting gaan nie toegelaat word nie. Hulle sê daar sal daadwerklik opgetree word teen enigiemand wat wanordelik is of ’n strafregtelike oortreding begaan. – Sky News, Reuters

Meer oor:  Boris Johnson  |  Kritiek  |  Vliegtuig  |  Britse Premier  |  G7-Beraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.