Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Boris wen dalk nie so maklik’

Hoewel meningspeilings aanvanklik aangedui het die Konserwatiewe Party (Tories) van Boris Johnson, die Britse premier, sal Donderdag se algemene verkiesing maklik wen, het dinge in die laaste paar dae verander.

Dit kan daartoe lei dat Johnson met ’n kleiner meerderheid sal wen as waarop hy gehoop het.

Dit sal Johnson in presies dieselfde posisie plaas as voor die verkiesing toe hy nie sy Brexit-planne om Brittanje aan die Europese Unie (EU) te onttrek deur die parlement gevoer kon kry nie, sê Linda van Tilburg, ’n Londense politieke ontleder.

As die Tories 326 van die 650 setels verower om ’n volstrekte meerderheid te behaal, sal hy sy planne deur die parlement gevoer kry en Brittanje sal volgens hom die EU teen die einde van Januarie kan verlaat – met of sonder ’n ooreenkoms.

Van Tilburg het uit Londen aan Netwerk24 gesê sy glo, soos baie ander ontleders, dat kiesers Donderdag in die sogenaamde Brexit-verkiesing nie tradisioneel volgens “hul stand” sal stem nie.

“Die verkiesing is uniek in die geskiedenis van Brittanje, want lojaliteite berus nie meer op van watter stand kiesers is nie.

“Tradisioneel het die werkersklas vir die Arbeidersparty gestem en die middel- en hoë klas vir die Tories.

“Kiesers kies nou hul kandidate volgens hul standpunt oor Brexit. Dit kan beteken dat Johnson se Tories van die Arbeidersparty-setels in die sentrale dele van die land, wat pro-Brexit is, wen,” sê Van Tilburg.

Sy is ’n voormalige politieke joernalis wat in 1994 met die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika die anker-aanbieder van die SAUK se televisiedekking was.

Die Britse premier Boris Johnson gee sy hond, Dilyn, ’n soen nadat hy Donderdag sy stem in die Britse verkiesing uitgebring het. Foto: Reuters

Boris was nie sy charismatiese self met veldtog

Van Tilburg sê Johnson se boodskap van “kom ons handel Brexit af”, het teen die einde van die verkiesingsveldtog nie meer veel slaankrag gehad nie.

“Daar was ook nie baie te sien van die eens charismatiese Johnson wat baie gewild was toe hy Londen se burgemeester was nie.

“Sy besluit om nie aan van die politieke debatte met opposisieleiers deel te neem nie en die feit dat hy geweier het om na ’n foto te kyk van ’n kind met longontsteking wat op die vloer van ’n hospitaal versorg is weens oorvol sale, is nie goed ontvang nie.”

Van Tilburg sê dit is tot Johnson se voordeel dat die Brexit-party van Nigel Farage besluit het om nie kandidate te stel in die kiesafdelings waar hulle die Brexit-stem kan verdeel nie.

“Wat Johnson ook help, is dat die kiesers wat teen Brexit gekant is, verdeeld is tussen die Arbeidersparty en die Liberaal-Demokrate (Lib Dems).

“In die suidoostelike dele van die land en in Londen, waar die meeste van dié kiesers bly, kan hulle takties stem vir kandidate wat in die EU wil bly.

“In die kiesafdeling Walton-on-Thames en Esher, waar Dominic Raab, die minister van buitelandse sake, as Tory-kandidaat staan, het ’n voormalige Tory-LP kiesers aangeraai om vir die Lib Dem-kandidaat te stem.”

Indien die Tories nie ’n volstrekte meerderheid behaal nie, sal Johnson hoed in die hand vir ondersteuning by ander partye moet gaan aanklop.

“Die Lib Dems het reeds aangedui hulle is nie bereid om met Johnson saam te werk nie.

“Dit is in hierdie stadium nie duidelik of die Demokratiese Unionisteparty (DUP) in Noord-Ierland, wat die Tories tot nou toe gehelp het, weer bereid sal wees om Johnson te steun nie. Hulle hou nie van sy jongste voorstel oor Noord-Ierland nie en dit kan dalk daartoe bydra dat ’n tweede Brexit-referendum binnekort gehou sal word.

“Dit is boonop ’n mislike, nat dag hier en as die jong kiesers sou besluit om nie te gaan stem nie, het Johnson dalk moeilikheid,” sê Van Tilburg.

Linda van Tilburg Foto: Sarel van der Walt

Derde algemene verkiesing in ’n paar jaar

Dit is die derde algemene verkiesing in net meer as vier jaar in Brittanje.

Dit is boonop die eerste keer sedert 1923 dat die Britte in Desember stembus toe gaan en die eerste een sedert 1974 wat in die Europese winter gehou word.

Britse verkiesings word gewoonlik in Mei gehou wanneer dit warmer is.

Die eerste uitslae is gewoonlik bekend ’n uur nadat die stembusse gesluit het. Met die vorige algemene verkiesing in 2017 was die eerste uitslag wat bekend was dié van Newcastle-sentraal in die noorde van Engeland, berig die BBC.

Met die vorige verkiesing in 2017 het die Tories 330 setels (36,9%) verower teenoor die Arbeiders se 232 (30,4%).

YouGov se jongste peiling dui aan dat die Tories dié keer 359 van die 650 setels kan verower en die Arbeiders net 211. Die Skotse Nasionale Party (SNP) behoort 43 te kry en die Liberaal-Demokrate 13.

Van Tilburg meen die sogenaamde uitgangspeiling (wat gedoen word sodra mense gestem het en bekend gemaak word wanneer die stembusse gesluit het) sal ’n beter aanduiding gee.

Meer oor:  Tories  |  Europese Unie  |  Boris Johnson  |  Britse Verkiesing  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.