Pres. Hage Geingob van Namibië en pres. Mokgweetsi Masisi van Botswana probeer agter die skerms gemoedere kalmeer nadat vier Namibiërs vroeër vandeesmaand op die Choberivier tussen dié twee lande deur soldate van Botswana doodgeskiet is.
Die mans is tussen die Namibiese eiland Impalila (in die Zambezi-streek wat voorheen bekend was as die Caprivistrook) en die dorp Kasane in Botswana doodgeskiet in wat die Botswana-weermag sê ’n teenstropingsoperasie was.
Namibië sê die slagoffers was vissermanne en hulle was in Namibiese waters toe hulle geskiet is.
Impalila is in die samevloei van die Zambezi- en Choberivier. Meer as 2 000 mense woon hier in 25 gehuggies.
Die voorval het tot spanning tussen die twee lande gelei.

Die Choberivier tussen Botswana en die noordooste van Namibië.
Die webwerf Africa Intelligence berig Geingob en Masisi het sedert die voorval op 5 November al twee keer telefonies met mekaar gepraat.
Albei het hul spyt oor die voorval uitgespreek en ’n beroep om kalmte in sowel Botswana as Namibië gedoen.
Toe die lyke van die slagoffers op 14 November by die Ngoma-grenspos tussen die twee lande aan die Namibiese owerhede oorhandig is, het Namibiërs die Botswana-vragmotors met klippe gegooi.
In Windhoek het betogers voor die hoëkommissariaat van Botswana byeengekom en ’n beswaarskrif aan Batlang Comma Serema, die hoëkommissaris, oorhandig.
Daar is ook in Swakopmund teen die voorval betoog.
Die Republikein in Windhoek berig Geingob het gesê: “Om by die waarheid uit te kom en om soortgelyke gevalle in die toekoms te vermy, het Namibië en Botswana ooreengekom om ’n gesamentlike span diplomate, kenners en amptenare opdrag te gee om deeglik en objektief ondersoek in te stel.”
Die koerant berig Geingob het wel Botswana se beleid om stropers dood te skiet beskryf as strydig met internasionale en streekbeginsels van vreedsame naasbestaan en stabiliteit.
Geingob sê hy het tevore die kwessie met Botswana se vorige president, Ian Khama, opgeneem en praat nou weer met Masisi hieroor.
“Ek kan met oortuiging sê dat daar welwillendheid by die huidige president van Botswana is om die doodskietbeleid te herroep. Daarom sien ek uit na ’n spoedige diplomatieke oplossing vir die probleem,” het hy volgens die Republikein gesê.
Africa Intelligence sê die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) – wie se hoofkantoor in Gaborone, hoofstad van Botswana, gesetel is – het nog niks oor die voorval gesê nie.
Pres. Filipe Nyusi van Mosambiek is die voorsitter van die SAOG.
The Namibian het vroeër vandeesweek berig druk is besig om op die Namibiese regering op te bou oor sy hantering van die voorval.
Die Zambezi-ontwikkelingsvereniging (ZDA) vra Geingob in ’n brief om die Zambezi-streek te besoek.
Die vereniging wil ’n petisie aan hom oorhandig en ook die versekering van die Namibiese president kry dat die inwoners van dié omgewing beskerm sal word teen die Botswana-weermag.