Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Brasilië se Lula aanstons sonder troon

Dis blykbaar neusie verby vir Luiz Inacio Lula da Silva, die voormalige Brasiliaanse president, se droom om aan die komende presidentsverkiesing deel te neem. Lula, soos hy algemeen bekend staan, dien gevangenisstraf van 12 jaar uit vir korrupsie en gaan volgens bronne Dinsdag die handdoek ingooi in sy regstryd om aan die verkiesing op 7 Oktober deel te neem.

Luiz Inacio Lula da Silva was van 2003 tot 2010 president van Brasilië. Hier is hy in September 2006 by die eerste spitsberaad tussen Indië, Brasilië en Suid-Afrika. Foto: Reuters

Brasilië se verkiesingshof het Lula (72) verbied om aan die verkiesing deel te neem weens sy skuldigbevinding aan korrupsie. Hy is beveel om binne tien dae ’n nuwe leier vir sy Werkersparty aan te wys, anders sou die party nie aan die verkiesing kon deelneem nie. Hy het appèl aangeteken, maar volgens twee bronne met kennis van Lula se besluit gaan hy waarskynlik Fernando Haddad, ’n oudburgemeester van Sao Paulo, aanwys as die Werkersparty se presidentskandidaat om die verkiesingshof se spertyd te haal.

Die aankondiging word buite die federale polisie se hoofkwartier in die suidelike stad Curitiba verwag waar Lula, ’n linkse ikoon, sedert April tronkstraf uitdien omdat hy omkoopgeld aanvaar het.

Lula se brief waarin hy Haddad as kandidaat aanwys sal aan sy ondersteuners voorgelees word. Van hulle kampeer al vyf maande lank voor die polisiekantoor uit protes teen hul geliefde Lula se tronkstraf. Sy ondersteuners glo hy is agter tralies weens ’n komplot om hom van sy mag te stroop.

Lula was van 2003 tot 2010 president en bly verreweg Brasilië se gewildste politikus.

In dié stadium is Jair Bolsonaro, ’n verregse politikus, die voorloper van die 13 presidentskandidate. Bolsonaro is egter nog in die waakeenheid in die hospitaal nadat hy verlede week byna doodgesteek is by ’n politieke byeenkoms. – Reuters

Lula (72) op 7 April, die dag toe ’n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik is. Foto: Getty Images
Oudpresident Lula se ondersteuners glo daar is ’n komplot teen hom. Van hulle kampeer al vyf maande lank buite die Federale polisiekantoor in Curitiba uit waar hy gevangenisstraf van 12 jaar vir korrupsie uitdien. Foto: Getty Images
Jair Bolsonaro, een van 13 presidentskandidate, kort na ’n mesaanval by ’n politieke saamtrek op 6 September in Juiz de Fora. Hy is steeds in die waakeenheid in die hospitaal, maar tans die voorloper in die verkiesing wat in Oktober gehou word. Foto: Reuters
Fernando Haddad gaan waarskynlik as die presidentskandidaat van Brasilië se Werkersparty aangewys word. Foto: Getty Images

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.