Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Brexit: Boris se 1ste salvo misluk

Donald Tusk, president van die Europese Raad, het Boris Johnson, die Britse premier, se versoek dat ’n “Ierse agterdeur” uit die Brexit-ooreenkoms gelaat word gister geweier.

Johnson het Maandag met dié versoek die openingsalvo gevuur in ’n veldtog om Brittanje se skeiding van die Europese Unie (EU) te herbeding.

In reaksie op Tusk se antwoord het die premierskantoor gesê hy is steeds bereid om oor ’n alternatief te onderhandel en dat geen infrastruktuur op die Ierse grens opgerig sal word en geen beheermaatreëls daar ingestel sal word nie, berig The Guardian.

Boris JohnsonFoto: GETTY IMAGES

Ná meer as drie jaar van ’n Brexit-krisis stuur die Britte af op ’n konfrontasie met die EU omdat Johnson blykbaar vasbeslote is om die blok op 31 Oktober te verlaat tensy die EU instem om die skeidingsvoorwaardes te herbeding.

Die blok en sy leiers het herhaaldelik geweier om die onderhandelings te hervat wat Theresa May, Johnson se voorganger, beding het.

Die agterdeur waartoe May ingestem het, is bedoel om streng beheermaatreëls op die grens tussen Noord-Ierland en die Republiek van Ierland, wat deel van die EU bly, te vermy totdat ’n alternatief gevind word. Die beteken in effek dat Noord-Ierland deel van die EU bly.

In sy openingsbod aan die EU voor vergaderings vandeesweek met pres. Emmanuel Macron van Frankryk en Angela Merkel, die Duitse kanselier, het John-son ’n brief van vier bladsye aan Tusk geskryf waarin hy sy eise uiteensit.

“Ek stel voor dat die agterdeur waar moontlik voor die einde van die oorgangstyd vervang word deur ’n onderneming om (alternatiewe) reëlings as deel van die toekomstige verhouding in te stel,” het Johnson geskryf. “Die tyd is min.”

’n VN-diplomaat het aan Reuters gesê Johnson se brief was “bloot openbare skakeling” en nie bedoel om konstruktiewe gesprekke aan die gang te sit nie, maar eerder om voorbrand te maak vir ’n “verwytery oor en weer” met die EU.

’n Ierse ingeligte het gesê Johnson het geen besonderhede van alternatiewe voorstelle gegee nie.

In ’n foongesprek met Johnson het Leo Varadkar, Ierse premier, bevestig dat die EU die onderhandelinge nie kan heropen nie.

Die kwessie oor wat om met Ierland se grens van 500 km met die Britse provinsie Noord-Ierland te doen, vertroebel Brexit-gesprekke voortdurend.

Die EU wil verseker dat sy enigste landsgrens met Brittanje nie ná Brexit ’n agterdeur word waardeur goedere die blok binnegaan nie.

Ierse se agterdeur lol nog

Die Europese Unie moet buigbaarheid toon oor die Ierse agterdeur, omdat die kwessie of Brittanje die blok met of sonder ’n ooreenkoms verlaat, nou hoofsaaklik in Brussel se hande is, het die Konserwatiewe Party se voorsitter, James Cleverly, gister gesê.

“Die besluit of ons met of sonder ’n ooreenkoms vertrek, is nou grootliks in die hande van die Europese Unie se onderhandelaars,” het Cleverly aan Sky News gesê en bygevoeg dat die EU se aandrang op die sogenaamde agterdeur die groot struikelblok is om ’n ooreenkoms te bereik.

“Ons sal op 31 Oktober vertrek, kom wat wil, en ek dink die erkenning daarvan sal die EU-onderhandelaars help om te verstaan wat hulle moet doen.” – Reuters

Maar Ierland sê sodanige beheer kan die vredesooreenkoms van 1998 ná drie dekades van konflik tussen die unioniste en die nasionaliste ondermyn. Die unioniste wou hê Noord-Ierland moet Brits bly en die nasionaliste dat Noord-Ierland deel van ’n verenigde Ierland moet word. Johnson se regering is vol Noord-Ierse unioniste.

Johnson het geskryf die agterdeur bedreig Brittanje se soewereiniteit deurdat die toepassing van enkelmarkreëls in Noord-Ierland hom van die res van die Brittanje afskei.

Noord-Ierland kan geleidelik van die Britse ekonomie losgemaak word, wat onaanvaarbaar vir die Britse regering is.

Die agterdeur kan ook die balans tussen nasionaliste en unioniste in Noord-Ierland verswak, sê hy.

Die beste oplossing is om waar moontlik voor die einde van die Brexit-oorgangstyd op reëlings oor Brittanje se toekomstige verhouding met die EU ooreen te kom en dit in te stel.

Ierland aanvaar nie die aanname dat die agterdeur ’n bedreiging vir vrede inhou nie, het ’n Ierse regeringsbron gesê.

Kragtens die huidige onttrekkingsooreenkoms sal die agterdeur aan die einde van die oorgangstydperk in 2020 van krag word. Dit sal ’n enkele EU-Britse doeanegebied skep, insluitend reëls vir “ ’n gelyke speelveld” wat gelyke mededinging op gebiede soos die omgewing, staatshulp en werkstandaarde waarborg.

Brexit-ondersteuners vrees dit kan Brittanje afhanklik hou van ’n stel reëls waaroor hulle geen sê het nie, en pogings vir onderhandelings met derde lande kortwiek – een van die sleutelvoordele wat hulle in die vertrek uit die EU sien.

Sommige Brexit-politici het gesê dit sal Brittanje ’n “slaafstaat” maak. – Reuters

Meer oor:  Europese Unie (Eu)  |  Theresa May  |  Donald Tusk  |  Boris John­Son  |  Ierland  |  Brittanje  |  Brexit  |  Wêreld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.