Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Brexit: 'Engeland en EU albei armer ná ooreenkoms’

Met net sewe dae voor die finale spertyd en die vooruitsig van ekonomiese chaos het Engeland en die Europese Unie (EU) Donderdag ’n handelsooreenkoms bereik.

“Die premier (Boris Johnson) het ’n ooreenkoms met die EU verseker wat beheer terugneem van ons wetgewing, grense, geld, vis en handel. Ons het ’n ooreenkoms met die EU vir geen tariewe en kwotas nie en vriendelike samewerking sal voortduur. Dis tyd om te verenig, die Brexit-verdeeldheid agter ons te sit en 2021 te beskou as die wegspringpunt vir ’n globale Brittanje,” het Dominic Raab, minister van buitelandse sake, getwiet.

Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, het die ooreenkoms as billik, gebalanseerd en regverdig bestempel.

Tot op die nippertjie is onderhandel oor hoeveel vis EU-bote in Britse waters mag vang. Verslaggewers wat buite Downingstraat 10, Johnson se ampswoning, gewag het, het die tyd verwyl deur die streke van Larry, die premier se kat, dop te hou.

Hoewel die ooreenkoms ekonomiese chaos verhoed, is ontwrigting op 1 Januarie steeds moontlik. Alle goedere sal aan meer reëls onderhewig wees, wat meer rompslomp en groter koste beteken.

“Dis van uiterste belang dat albei partye dadelik stappe doen om handel aan die gang te hou en dienste te laat vlot,” sê Tony Danker, direkteur-generaal van die konfederasie van Britse nywerhede.

Die handelsooreenkoms sluit nie dienste, wat 80% van die Britse ekonomie beslaan, in nie. Dit beteken die bankbedryf, wat van Londen ’n finansiële wêreldhoofstad maak, asook die versekeringsbedryf en batebestuurders, sal beperkte toegang hê tot die EU-mark.

Volgens Nigel Farage, ’n kampvegter vir Brexit, hou die handelsooreenkoms Engeland steeds te nou verbind aan die EU. Hy hoop dit is die begin van die ondergang van die handelsblok.

Met Engeland uit die prentjie verloor die EU sy grootste militêre en intelligensie-mag, 15% van sy bruto binnelandse produk, een van die twee top- finansiële wêreldhoofstede en ’n kampvegter vir die vryemark wat ’n belangrike teenwig vir die ambisies van Duitsland en Frankryk was.

Sonder die kollektiewe mag van die EU sal Engeland alleen staan – en veel meer aangewese op Amerika wees – wanneer hy onderhandel met China, Rusland en Indië. Die land sal meer outonomiteit hê, maar beslis armer wees, minstens op kort termyn.

Meer oor:  Boris Johnson  |  Brexit  |  Europese Unie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.