Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Brexit: Major waarsku Boris kan wet omseil

Sir John Major, voormalige Britse premier, waarsku Boris Johnson, die huidige premier, kan nuwe wetgewing omseil om te keer dat Brittanje sonder ’n ooreenkoms die Europese Unie (EU) verlaat.

Sir John Major. Foto: Reuters

Mayor was soos Johnson ’n Konserwatiewe Party-premier.

Hy het op ’n byeenkoms in die Spaanse ambassade in Londen gesê Johnson sê hy wil ’n ooreenkoms met die EU bereik “maar ons sien hom nie in Brussel om die tafel sit om ’n ooreenkoms te bereik nie”.

Major sê Johnson sê sonder om te blik of te bloos Brittanje sal die EU op 31 Oktober verlaat – ondanks die feit dat die parlement onlangs wetgewing aanvaar het wat dit onwettig sal maak om dit sonder ’n ooreenkoms te doen.

Hy het die premier ook daarvan beskuldig dat hy net lippediens lewer oor die uitspraak van die hooggeregshof dat sy vyf weke lange opskorting van die parlement onwettig was.

“Hy vertel ons die hof was verkeerd en hy reg. Deur die eeue al is dit die verskoning van mense wat skuldig bevind is aan misdrywe,” sê Major.

“Al bereik ons in hierdie laat stadium ’n ooreenkoms wat saam met die EU saamgeflans is, sal dit waarskynlik niksbeduidend en onregverdig wees.”

Die gevolg is waarskynlik dat Brittanje die EU sonder enige ooreenkoms sal verlaat.

Brittanje sal die groot verloorder wees.

“My vrees is dat die regering sal probeer om die wet op statute op te skort tot ná 31 Oktober.”

Só ’n besluit kan deur die kabinet geneem word sonder om die koningin (as staatshoof) te betrek.

Boris Johnson. Foto: Getty Images

“Ek moet die premier waarsku dat as hy dié roete wil volg, dit ’n flagrante minagting van die parlement is en hoogs oneerbiedig teenoor die hooggeregshof,” sê Major wat van 1990 tot 1997 premier was.

Intussen het Dominic Cummings, die hoofstrateeg in Johnson se kantoor, gesê hy is nie verbaas dat die Britse publiek kwaad is vir die land se parlementslede nie.

Hy sê die aanvalle op die parlementslede sal ophou sodra hulle die Brexit-besluit van die Britse kiesers om die EU te verlaat, respekteer.

“Die parlementslede het (destyds) gesê daar sou ’n referendum wees en hulle sou die uitslag aanvaar. Dit is nou al drie jaar later en hulle val nog rond,” het Cummings volgens Sky News gesê.

Talle parlementslede is nou, selfs meer as in 2016, uit voeling met die land, sê hy.

Dominic Cummings. Foto: Reuters

Hy het die bewerings verwerp dat Johnson en sy Brexit-span onder “ongelooflike druk” is. Cummings sê hy en die premier geniet die druk wat daar op die onderhandelinge oor Brexit is.

“Ons geniet dit, ons gaan waai uit die EU en ons gaan wen,” het hy gesê.

Johnson is ook onder druk oor sy taalgebruik vandeesweek in die parlement toe hy onder meer parlementslede uitgedaag het om ’n mosie van wantroue in hom in te stel.

Johnson moes inderhaas die 74ste algemene vergadering van die Verenigde Nasies (VN) in New York verlaat toe die Britse hooggeregshof Dinsdag beslis het sy vyf weke lange opskorting van die parlement was onwettig.

Harde woorde tussen hom en lede van die opposisiepartye het Woensdagaand in die parlement in Westminster geval.

Van die parlementslede het die premier gekritiseer omdat hy die bekommernis van Arbeidersparty oor hul veiligheid as “bog” bestempel het. Dit is nadat talle LP’s dreigemente van geweld teen hulle gekry het.

Johnson het ook deurentyd na wetgewing wat deur die parlement aanvaar is om ’n onttrekking sonder ’n ooreenkoms te keer, as die “boedeloorgawe-wet” verwys, berig die BBC.

Johnson, wat hom al die een drag slae ná die ander op die hals gehaal het sedert hy as premier by Theresa May oorgeneem het, het Woensdagaand weer op sy baadjie gekry.

’n Mosie dat die parlement vir drie dae in reses gaan ter wille van Johnson se Konserwatiewe Party (Tories) se jaarlikse konferensie wat dié naweek in Manchester, Engeland, plaasvind, is met ’n meerderheid van 17 stemme (306 stemme teenoor 289) verwerp.

Die ander twee groot partye, die Liberaal-Demokrate en die Arbeidersparty, se jaarlikse konferensies is reeds afgehandel.

Meer oor:  Boris Johnson  |  Brittanje  |  Europese Unie  |  Brexit  |  Premier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.