Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Brexit-plan: Nou kan ons aanbeweeg, sê Johnson

Boris Johnson, Britse premier, het Donderdag aangekondig die Europese Unie (EU) het ’n gewysigde Brexit-ooreenkoms aanvaar, hoewel daar nog in die Europese en Britse parlement oor die plan gestem moet word.

Brittanje en die EU sou Donderdag en Vrydag op ’n beraad in Brussel die knoop probeer deurhak, maar toe kom die skielike aankondiging nog voordat die beraad om 15:00 Suid-Afrikaanse tyd begin het.

“Ons het ’n wonderlike nuwe ooreenkoms wat beheer terugneem, en nou kan die parlement Saterdag (stem) om Brexit af te handel sodat ons kan aanbeweeg na ander prioriteite soos lewenskoste, die NHS (National Health Service), gewelddadige misdaad en ons omgewing,” het Johnson op sy amptelike Twitter-rekening geskryf.

Vroeër is berig Johnson kon steeds nie daarin slaag om die noodsaaklike steun van die Noord-Ierse Demokratiese Unionisteparty (DUP) vir sy Brexit-plan te kry nie.

Johnson wou juis na die EU-beraad gaan met die DUP wat die ooreenkoms sou bekragtig, dus was die skielike aankondiging oor die ooreenkoms ’n verrassing.

Jean-Claude Juncker, president van die Europese Kommissie, het die Brexit-ooreenkoms in ’n twiet bevestig.

“Waar daar ’n wil is, is ’n ooreenkoms, ons het dit gedoen! Dit is ’n regverdige en gebalanseerde ooreenkoms vir die EU en die Verenigde Koninkryk (VK) en dit is ’n getuigskrif dat ons daartoe verbind is om oplossings te vind. Ek beveel aan dat die EUCO (Europese Kommissie) die ooreenkoms onderskryf,” het hy gesê.

Die DUP, wat ’n bondgenoot van Johnson se Konserwatiewe Party is, se besware het vrese laat ontstaan dat lede van die Konserwatiewe Party die bekragtiging van die plan kan teenstaan tensy daar nie nog veranderinge aan die plan gemaak word nie, berig Reuters.

Arlene Foster, DUP-leier, en haar adjunk, Nigel Dodds, het vroeër in ’n verklaring gesê dié party kan weens doeane-kwessies nie die plan steun nie. Die groot kwessie is om ’n harde grens tussen Noord-Ierland en die Republiek van Ierland ná Brexit te vermy, omdat Ierland as onafhanklike staat in die EU gaan bly.

Daar is volgens die DUP ook onduidelikhede oor BTW (belasting op toegevoegde waarde) op invoer- en uitvoergoedere.

Onderhandelaars het deurnag gewerk om tot ’n vergelyk te kom oor die kwessie, wat die mees uitdagende aspek van Brexit is en die rede is waarom die Britse parlement die Brexit-plan wat Theresa May, Johnson se voorganger, ter tafel gelê het twee keer verwerp het.

Die sogenaamde Ierse agterdeur, soos wat May se voorstel gedoop is om ’n harde grens te vermy, is nou uit die weg geruim.

Michel Barnier, die EU se hoofonderhandelaar oor Brexit, Donderdag op ’n nuuskonferensie in Brussel. Foto: Reuters

Michel Barnier, die EU se hoofonderhandelaar oor Brexit, het op ’n nuuskonferensie gesê verkose politici in Noord-Ierland kan ingevolge die ooreenkoms ná vier jaar besluit, deur daaroor te stem, of hulle wil voortgaan om die EU se handelsreëls toe te pas of nie.

Die DUP het tien lede in die Britse laerhuis wat Saterdag ’n spesiale sitting hou om oor die plan te stem.

Die BBC berig dit is waarskynlik dat die tien teen die plan gaan stem.

Die DUP het egter in ’n verklaring gesê hoewel sy posisie nie verander het nadat die ooreenkoms aangekondig is nie, is hy bereid om saam te werk om ’n ooreenkoms te bereik wat vir almal werk.

Om ’n grens tussen Noord-Ierland en die Republiek van Ierland te vermy, is die benadering tot Noord-Ierland in die ooreenkoms anders as die res van die VK, en moet die parlement van Noord-Ierland met ’n meerderheid ten gunste van enige spesiale reëlings in die Brexit-ooreenkoms stem.

Noord-Ierland gaan byvoorbeeld steeds onderhewig wees aan die EU se reëls oor voedselveiligheid en gehaltestandaarde van produkte.

Die DUP aanvaar Noord-Ierland gaan by die EU-handelsreëls moet hou as hy ’n harde grens met sy buurland, die Republiek van Ierland, wil vermy, hoewel Noord-Ierland die Europese doeane-unie saam met die res van die VK verlaat.

Die EU se doeaneprosedures gaan ook toegepas word op goedere wat uit die res van die VK in Noord-Ierland aankom om sodoende grens-inspeksies te vermy.

Die Noord-Ierse parlement gaan al hierdie reëls op ’n gereelde grondslag moet goedkeur, berig die BBC verder.

Sky News berig Jeremy Corbyn, leier van die Britse Arbeidersparty, het op die nuus oor die ooreenkoms gereageer deur te sê hy steun dit nie en dat ’n tweede referendum gehou moet word.

Ierland se eerste minister het Donderdag ook die nuwe Brexit-ooreenkoms tussen Brittanje en die Europese Unie verwelkom en dit beskryf as ’n “unieke oplossing” vir Noord-Ierland wat nog altyd die Britse-gebied se eiesoortige geskiedenis en geografie gerespekteer het.

Volgens Reuters het Leo Varadkar op Twitter gesê dat die nuwe ooreenkoms goeie nuus vir Ierland en Noord-Ierland beteken.

“Geen harde grens. Alle eiland en oos-wes ekonomieë kan steeds voortgaan om groter hoogtes te breik. Dit beskerm ook ons enkelmark-beleid en ons besluit daaroor.”

Meer oor:  Boris Johnson  |  Brexit  |  Europese Unie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.