Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Brit se SA leeujagtogte skok, ontstel

Britte met etlike duisende volgelinge op Twitter het Sondag hul skok en afgryse uitgespreek oor ’n mede-Brit wat sogenaamde geblikte leeujagte in Suid-Afrika vir duisende ponde aan “niksvermoedende” trofeejagters verkoop.

Mail on Sunday het Sondag berig Alex Goss, van Oswestry, Shropshire, besit ’n safari-onderneming, Blackthorn Safaris, in Suid-Afrika en dat hy geblikte leeujagtogte van tot £13 000 (sowat R237 000) aanbied.

Peter Egan, Britse diere-ambassadeur het op Twitter aan sy 61 000 volgelinge gesê Goss “sleep Britte se naam deur die modder”.

Egan het Michael Gove, minister van die omgewing, gevra om te help keer dat trofeë wat van Blackthorn afkomstig is na Brittanje ingevoer word.

“Keer asseblief dat die liggaamsdele van vermoorde diere deur Brittanje ingevoer word,” het Egan die minister gevra.

Die nieregeringsorganisasie Campaign to Ban Trophy Hunt­ing het getwiet: “ ’n Britse maatskappy (Blackthorn Safaris) is vandag (gister) ontbloot dat hy siek jagtogte van geblikte leeus in Suid-Afrika reël en aanbied.”

Campaign to Ban Trophy Hunting het Boris Johnson, die gunsteling-kandidaat om Therera May as premier op te volg, gevra: “Sal jy asseblief help om trofeejag te verbied wanneer jy die premier is?”

Egan het gesê Goss is ’n “skande vir die mensdom en hy verraai die hele konsep van empatie”.

Goss kon nie vir kommentaar genader word nie omdat hy Sondag sy webwerf, sy Instagram-profiel, sy Facebook-blad en sy Twitter-rekening gesluit het.

Die opskrif van Mail Online se berig lui: “Om van siek te word: Britse safari-baas vra niksvermoedende trofeejagters duisende ponde om plaasgeteelde leeus …in Suid-Afrika te jag.

Die webwerf het foto’s van Goss by dooie leeus geplaas en skryf : “Die safari-baas poseer by die karkasse van twee leeus wat pas geslag is.”

Goss is na wat verneem word die enigste Brit wat geblikte jagtogte in Suid-Afrika aanbied. “Halfmak leeus word in ’n omheinde gebied geskiet. Dit is wat Suid-Afrikaners geblikte leeujag noem.”

Die publikasie verwys na Goss se webwerf waar hy langs karkasse van krokodille, ’n seekoei, ’n buffel, twee sebras en ’n groot maanhaarleeu en ’n leeuwyfie poseer.

Volgens sy webwerf bied hy ook luiperd- en olifantjagtogte aan. Op Blackthorn se webwerf skryf hy jagters word in ’n vyfsterlodge gehuisves, “ ’n stukkie paradys in die bos op die grens van die Kalahari-woestyn. Beroemd vir leeujag is die Kalahari die perfekte plek om hierdie katte te jag. Die uitsig is absoluut asemrowend met groot getalle wild. Dit is ’n paradys vir avonturiers,” lui die inskrywing.

Dr. Pieter Kat van die bewaringsorganisasie Lion Aid sê dit is duidelik die leeumannetjies waarvan foto’s op Goss se webwerf geplaas is, is geteelde leeus. “Wilde leeus baklei baie en het daarom merke op hul gesig. Dié leeus het geen merke nie.”

Sowel Mail Online as The Sun het berig Suid-Afrika is die enigte land ter wêreld waar mense leeus privaat mag teel. Volgens dié twee publikasies is daar sowat 12 000 halfmak leeus in Suid-Afrika wat op 200 leeuplase geteel word. Dié wat nie deur jagters geskiet word nie, word geslag en hul beendere na China uitgevoer vir tradisionele medisynes.

Beeld het die berig aan Barbara Creecy, minister van omgewingsake, visserye en bosbou en die departement getwiet, maar geen reaksie gekry nie.

Meer oor:  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.