Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Britse verkiesing: ‘Ons belowe, ons belowe . . .’

In hul finale blitsveldtogte voor die algemene verkiesing in Brittanje Donderdag, het Boris Johnson van die regerende Konserwatiewe Party en Jeremy Corbyn van die opposisie, die Arbeidersparty, hul belangrikste verkiesingsbeloftes herhaal.

“Ons sal Brexit afgehandel kry,” het Johnson beplan om in die hartland van Brexit-ondersteuners te gaan sê.

En Corbyn het beplan om te herhaal dat hulle binne 100 dae ná die verkiesing sal begin om industrieë te nasionaliseer.

Johnson sou Maandag op Sunderland in die noordooste van Engeland wees. Die dorp was een van die eerstes wat ná die referendum oor Brexit drie jaar gelede aangekondig het hy stem vir Brexit.

Johnson het sy hele verkiesingsveldtog rondom die afhandeling van Brexit gebou, terwyl Corbyn op verreikende ekonomiese stappe tot voordeel van sukkelende Britte gefokus het.

Johnson loop volgens peilings voor en sal na verwagting die 320 parlementêre setels wen wat hy nodig het om Brexit op 31 Januarie finaal deur te voer.

Hy staan wel ’n klein kans om nie ’n volstrekte meerderheid te hê nie omdat daar talle kiesafdelings is waar die stryd na verwagting kwaai gaan wees. Dit kan lei tot ’n parlement waarin geen party ’n meerderheid setels het nie.

Daar word wyd gespekuleer dat só ’n situasie sal lei tot ’n tydelike regering onder Corbyn. Dit sal beteken hy sal beperkte magte hê om sy ekonomiese hervorming deur te voer.

Daar word ook in só ’n situasie verwag dat die kleiner partye gaan saamstaan en probeer om ’n tweede referendum oor Brexit af te dwing.

Die Arbeidersparty het belowe as hy ’n meerderheid in die verkiesing kry (waarvoor ’n yslike swaai in die openbare mening nodig sal wees), sal hy ’n nuwe Brexit-ooreenkoms met die Europese Unie (EU) onderhandel wat hy daarna aan kiesers sal voorlê om te aanvaar of om te sê hulle wil in die EU bly.

Corbyn het sy veldtog gemik op mense wat gefrustreerd is weens ’n dekade waarin die regerende Konserwatiewe Party staatsuitgawes gesny het.

Die Arbeiders sal ryk mense en maatskappye meer belasting laat betaal en daardie geld in die land se infrastruktuur inpomp.

“Wanneer ons in beheer is, sal ons die geld aan julle gee,” het John McDonnell, die Arbeiders se woordvoerder oor finansies, Maandag gesê. – Reuters


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.