Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Britte gaan EU teen 2387 steeds probeer verlaat’

“Dis die jaar 2387. Die aarde is lid van die Federasie van Planete, maar sonder die Verenigde Koninkryk, want hulle probeer steeds om die Europese Unie (EU) te verlaat.”

Reddit-gebruikers meen Brittanje sal teen 2387 steeds uit die EU probeer padgee. Foto: Reddit

Dit is maar een van die talle grappies wat die naweek die ronde op sosiale media begin doen het nadat die Britte nie, soos beloof, die EU op 31 Oktober verlaat het nie.

En dit volg nadat Boris Johnson, Britse premier, hoog en laag gesweer het dat hy Brittanje met of sonder ’n Brexit-ooreenkoms uit die EU sal pluk, indien hy die Britse premier word.

Johnson het dié beloftes gemaak toe hy en Jeremy Hunt, voormalige minister van buitelandse sake, om Theresa May se pos meegeding het.

Sosialemediagebruikers op Reddit het egter die naweek die spot met Johnson gedryf nadat die EU wéér die Britte uitstel gegee het vir Brexit.

’n Foto van Johnson wat baie bedruk lyk, het Vrydag die ronde gedoen met die opskrif: “Dís hoe jy lyk wanneer jy op 1 November wakker word en Brittanje is steeds in die EU”.

’n Foto van ’n bedrukte Boris Johnson het die naweek op sosiale media verskyn. Foto: Reddit

Die Britte moes die EU aanvanklik op 29 Maart vanjaar verlaat, maar het uitstel tot 31 Oktober gekry, waarna Johnson belowe het dat die Britte met of sonder ’n Brexit-plan uit die EU sal padgee.

Die Britte se Brexit-plan het reeds in 2016 begin nadat 52% van die kiesers in ’n referendum daarvoor gestem het dat Brittanje die EU moet verlaat, terwyl 48% daarteen gestem het.

Op sosiale media word gespot Brittanje sal teen 2192 steeds Brussel toe gaan en vir ’n uitstel vra.

“Die jaar is 2192. Die Britse premier gaan lê besoek in Brussel af en vra dat die Brexit-sperdatum uitgestel word. Niemand onthou waar dié tradisie vandaan kom nie, maar elke jaar lok dit baie toeriste,” lui die grappie wat op Reddit gedeel is.

Die Britte sal glo nog teen 2192 steeds vir uitstel vra. Foto: Reddit

Sommige gebruikers het ook die nuwe woord “Brexiting” op sosiale media gebruik en sê dít gebeur wanneer jy totsiens sê ná ’n partytjie, maar dan steeds verder kuier.

Brexiting . . . Wanneer jy almal op ’n partytjie groet, maar dan net verder kuier. Foto: Reddit

Mense sê ook hulle dink Brexit is wel deurgehak nadat die Springbokke die Engelse Saterdag in die Wêreldbekerrugby in Japan geklop het.

Die Bokke het Brexit glo aangehelp . . .Foto: Reddit

Brexit is eers op ys terwyl die partye voorberei vir ’n algemene verkiesing op 12 Desember. Die EU het uitstel gegee omdat die Britse parlement nie tevrede was met Johnson se Brexit-tydrooster nie.

Die Britse laerhuis het Johnson se Brexit-plan uiteindelik middel-Oktober aanvaar, maar was nie tevrede met sy tydrooster nie. Dit het Johnson genoop om vir ’n algemene verkiesing te vra, wat eers verwerp is, maar later in die Britse laerhuis aanvaar is.

Dié verkiesing sal die eerste een oor Kerstyd sedert 1923 wees. Daarmee word beoog om die dooiepunt oor Brexit uit die weg te ruim.

Indien een party egter nie oortuigend wen nie, sal die dooiepunt net voortduur.

Die EU het Brittanje se uittrede tot 31 Januarie 2020 uitgestel.

The Guardian berig dat Johnson intussen om verskoning gevra het aan lede van sy Konserwatiewe Party wat vir hom gestem het. Hy het glo gesê dat hy “diep berou” het omdat Brexit weer uitgestel is, en het die parlement hiervoor geblameer.

Johnson het al gesê dat hy liewer dood in ’n sloot sal lê voordat hy Brexit weer uitstel. Hierop is ’n foto van ’n sloot op sosiale media geplaas en gesê dié sloot word vir hom uitgehou.

’n Sloot wat glo vir Boris Johnson uitgehou word. Foto: Reddit
’n Tweejaar-verhouding is vervelig teenoor al die Brexit-uitstelle. Foto: Reddit
So is daar die spot met Brexit gedryf. Foto: Reddit/ Befunky
Johnson het belowe dat hy Brittanje met of sonder ’n ooreenkoms op 31 Oktober uit die EU sou pluk. Foto: Reddit

Meer oor:  Boris Johnson  |  Europese Unie (Eu)  |  Brittanje  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.